Economic Impact PDF Print E-mail

Die ekonomie van pekanneute

Cobus Burger, Landbou-ekonoom: Terratek, Suidwes Landbou 

Pekanneutproduksie is vir baie produsente ‘n onbekende bedryf. In alle boerdery-omgewings word daar daagliks na nuwe geleenthede gesoek, wat ‘n beter toekoms en ‘n meer stabiele en risikovrye besigheidsomgewing sal verseker. In hierdie artikel ondersoek ons die kernfaktore wat die winsgewendheid en lewensvatbaarheid van pekanneutproduksie bevestig.

   
 

Vestigingskoste

Die vestigingskoste van pekanneute verskil van streek tot streek. Die grootste uitgawes is die aankoop van plantmateriaal (bome) en die installasie van die korrekte besproeiingstelsel. Baie produsente sal eers drupbesproeiing installeer wanneer die bome in produksie kom of selfs nooit nie (en dus vloedbesproeiing toepas). Daarby is die spasiëring van die bome ook ‘n kostefaktor wat in gedagte gehou moet word. Die prys van bome beloop ongeveer R65 tot R75 per boom na gelang van kwaliteit en beskikbaarheid. Die uitgawes soos in die begroting (Tabel 1) is redelik hoog en weerspieël die vestiging van bome met drupbesproeiing vanaf jaar 3. Die koste sluit insetkosteinflasie van 7% in, terwyl die toename in produkprys slegs met 3% verhoog (kosteknyptang van 4%). Volgens dié spesifieke begroting behoort so ‘n aanplanting in jaar 9 alreeds alle agterstallige kontantuitgawes uit te wis en ‘n redelike wins te toon. (Gelykbreekpunt in jaar 9.)

 
 Image 
 

Vergelyking met kontantgewasse

‘n Direkte vergelyking tussen pekanneute en grondbone, mielies en koring (geproduseer onder besproeiing) is gemaak om ‘n beter beeld van die winsgewendheid van pekanneutverbouing te verkry. Indien die kontantvloei van pekanneute egter negatief is (jaar 1-5) kan dit nie met die gewasse vergelyk word nie.  

 

Vergelyking met mielies

Tabel 2 weerspieël die prys wat mielies moet behaal om na koste, dieselfde bruto marge as pekanneute te lewer vanaf jaar 1 tot 15.  Die blou gedeeltes toon aan waar die mielieprys op normale winsgewende vlakke tussen R1 000 en R2 100 per ton beweeg.  Waar die pryse egter groter is as nul (in die geel gedeeltes) kan dieselfde bruto marge vanaf mielies verkry word as met dieselfde jaar se bruto marge vir Pekanneute teen ‘n spesifieke opbrengs en ‘n gemiddelde mielie insetkoste van R8 500 per hektaar (jaar 5).  In jaar 1 tot 5 is daar egter nie ‘n vergelyking nie, aangesien pekanneute nie voor dan winsgewend produseer nie – en dit geld vir al die vergelykings. Dit is die vyf jaar wat die oorlewing van enige pekanneutuitbreiding bepaal, kontantvloei- en boort bestuur is in hierdie jare die sleutel tot sukses. Buiten die feit dat daar geen inkomste vanaf hierdie hektare vir die volgende vyf jaar is nie, is daar ‘n geweldige kontantuitvloei soos in die begroting (tabel 1) gesien kan word. Die gedeeltes in groen verteenwoordig egter abnormale prysvlakke vir mielies en dit beteken dus dat mielies vanaf jaar 8 nie met pekanneute kan vergelyk nie.

 
 Image 
 

Vergelyking met koring

Tabel 3 weerspieël die prys wat koring moet behaal om na koste dieselfde bruto marge as pekanneute te lewer (vanaf jaar 1 tot 15). Die blou gedeeltes toon waar die koringprys op normale winsgewende vlakke tussen R1 200 en R2 350 per ton beweeg.  Waar die pryse egter groter is as nul (in die geel gedeeltes) kan dieselfde bruto marge vanaf koring verkry word as met dieselfde jaar se bruto marge vir pekanneute teen ‘n spesifieke opbrengs en ‘n gemiddelde koring insetkoste van R6 500 per hektaar (jaar 5). Die gedeeltes in groen is egter abnormale prysvlakke vir koring en dit beteken dus dat dat koring vanaf jaar 7/8 nie met pekanneute kan vergelyk nie.

 
 Image 
 

Vergelyking met grondbone

Tabel 4 weerspieël die prys wat grondbone moet behaal om na koste dieselfde bruto marge as pekanneute te lewer vanaf jaar 1 tot 15. Die blou gedeeltes toon aan waar die gemiddelde grondboonprys op normale winsgewende vlakke tussen R3 000 en R6 000 per ton beweeg.  Waar die pryse egter groter is as nul (in die geel gedeeltes) kan dieselfde bruto marge vanaf grondbone verkry word as met dieselfde jaar se bruto marge vir pekanneute teen ‘n spesifieke opbrengs en ‘n gemiddelde grondboon insetkoste van R6 500 per hektaar (jaar 5). Die gedeeltes in groen is egter abnormale prys vlakke vir grondbone en dit beteken dus dat grondbone vanaf jaar 8 nie met pekanneute kan vergelyk nie.

 
 Image 
 

Vergelyking van pekanneute met kontantgewasse in wisselbou

Dit is egter nie regverdig om pekanneute met ‘n enkele kontantgewas te vergelyk nie, aangesien produksie onder besproeiing drie kontantgewasse in twee jaar kan produseer. In Tabel 5 word die bruto marge van pekanneute opgeweeg teen ‘n geweegde gemiddelde bruto marge (GGBM) per jaar per hektaar vir die produksie van mielies, koring en grondbone teen verskillende prestasievlakke in ‘n gesonde wisselboustelsel. Die vergelyking is vanaf jaar 1 tot 15. Hierin word die prys weerspieël wat pekanneute moet behaal (Rand per kilogram) om met die GGBM van kontantgewasse (hierbo genoem) te kan vergelyk. Die bruto marge wat in die vergelyking gebruik word, is jaarliks met 7% verhoog; dit word dus elke jaar teen ‘n hoër bruto marge geweeg en nie deurlopend met die bedrae soos in Tabel 5 aangetoon nie. Die blou gedeeltes in die tabel toon aan waar die prys vir pekanneute normaal tussen R16 en R24 per kilogram is ten einde ‘n vergelyking te kan tref. Dit beteken dat daar in daardie sone geen abnormaliteite by pekanneute voorkom wat ‘n direkte vergelyking onmoontlik maak nie. In jaar 4, 5 en sommige gevalle van jaar 6 en 7 moet die prys van pekanneute abnormaal wees om enigsins vergelykbaar te wees met die GGBM van kontantgewasse. Vanaf jaar 8 raak die winsgewendheid van pekanneute so hoog dat dit selfs met prys vlakke van 15 jaar gelede vergelykbaar is met GGBM van kontantgewasse.

 
 Image 
 Image 
 Image 

Die kumulatiewe gelykbreekpunte van die verskillende vlakke van GGBM van kontantgewasse word in tabel 6 vergelyk met dié van pekanneute. Die negatiewe kontantvloeie wat hier waargeneem kan word kan direk gekwantifiseer word met die hektare waarop bome gevestig word, waar die geleentheidskoste die kontantgewasse is (dit kan gebruik word om invloed op kontantvloei te beraam).  In Grafiek 1 word ‘n vergelyking getref tussen ‘n hoë, medium en lae GGBM (kumulatief) van kontantgewas produksie en ‘n normale bruto marge (kumulatief) vir pekanneute. Die liniêre lyn van pekanneute toon duidelik aan hoe die bruto marge van die neute uitstyg bo die GGBM van ‘n hoë, medium en lae GGBM by kontantgewasse. (Kyk na die groot verkil in die helling van die lyne - dit beteken dat pekanneute oor tyd baie beter sal presteer.) 

Daar waar die “Verskil” kurwes positief raak, toon dit dat die kumulatiewe inkomste groter is as die kumulatiewe geleentheidskoste (dus gelykbreekpunt met pekanneute).

 

Gevolgtrekking

Daar bestaan dus geen twyfel dat Pekanneute beslis deel kan uitmaak van enige produsent (wat oor die regte hulpbronne beskik) se vertikale risikoverspreidingsportefeulje nie. Die potensiaal van pekanneute is werklik so goed dat dit aandag behoort te geniet waar dit wel aangeplant kan word. Die tydperk van kontantvloeibestuur is egter lank en daarom kan enige wanpraktyke en of terugslae ‘n groot invloed op die gelykbreekpunt en volhoubaarheid hê.  Dit is ook moeilik om die 8 tot 13 jaar te oorbrug en daarom kan uitbreidings nie onoordeelkundig gedoen word nie. Deeglike beplanning en finansiële deursettingsvermoë is noodsaaklik om die verbouing van pekanneute lewensvatbaar te maak. 

 

 

 
 
< Prev   Next >
SAPPA
Region 1 Region 2 Region 3 Region 4 Region 5 Region 6 Region 7 Region 8 Region 6 Region 4 Region 5 Region 8 Region 7 Region 1 Region 3 Region 2 (Swaziland) Region 2 (Lesotho)