Pekan KULTIVARS in Suid-Afrika

Pekan KULTIVARS in Suid-Afrika

Waar het dit alles begin? Dit is seker ‘n vraag wat menige pekanneutboer hom of haar al self afgevra het terwyl hy/sy in die boord staan en die neute bewonder. Dis jammer dat iemand nie destyds vir Jan van Riebeeck die regte voorligting kon gee nie. Dan sou hy sekerlik, in plaas van ‘n laning wilde amandels, beslis ‘n laning pekanneutbome aan die Kaap geplant het en sou toeriste vandag nog daar in die lieflike skaduwee van die bome kon sit en neute eet.  Alhoewel nie só romanties nie, is die oorsprong van pekanneute in Suid-Afrika tog baie interessant en is dit vir ons as pekanboere ook belangrik om daarvan te weet. Deur die geskiedenis daarvan te ken, kan ons verseker dat ons boerdery volhoubaar voortgaan en kan ons kinders hierdie wonderlike bedryf in die jare wat kom, respekteer en uitbou.

Omdat Noord Amerika die enigste plek is waar pekans inheems voorkom, is dit logies dat alle pekanneutbome in Suid Afrika hul oorsprong van daar het. Die invoer van saad-neute, geënte bome en entmateriaal is voorheen deur die Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse van die destydse Departement van Landbou op Nelspruit gereël en gekoördineer. Invoere was dus bykans uitsluitlik vanuit die VSA, alhoewel daar ook een keer plantmateriaal vanaf Australië ingevoer is.

Pekan kultivars is in verskeie proefblokke deur die hele land aangeplant, o.a. Roodeplaat, Addo, Nelspruit en Pietermaritzburg.  Vier plaaslike kultivars nl. Ukulinga, Marina, en meer onlangs ook Alvina en Sutex, is ook geselekteer uit neute wat op verskillende lokaliteite in die land as saad geplant is en belowende eienskappe soos, siekteweerstand of uitsonderlike hoë opbrengs, getoon het.

Die geskiedenis van die vroeë aanplantings, en hoe die bedryf in die land gevestig is, is al baie vaag. Meer navorsing is nodig en dit sal in ‘n volgende artikel beskryf word. Na aanleiding van vrae op ‘n onlangse streeksvergadering, handel hierdie artikel hoofsaaklik oor die meer onlangse invoere van plantmateriaal en die proses wat gevolg is om dit deur die land te versprei.  Omdat die Dept van Landbou se betrokkenheid by die pekanbedryf in die laat 1990’s drasties afgeskaal is, het SAPPA die inisiatief geneem met die invoer van kultivars vanaf die VSA. Kundiges soos Johan Oosthuizen was beskikbaar om te verseker dat die regte prosedures gevolg word, sodat daar nie ongewenste siektes of insekte saam met die plantmateriaal ingebring sou word nie. ‘n Paar SAPPA lede het hul hulp aangebied en 2006 het SAPPA deur middel van die kwekery-verteenwoordiger, Heiko Meier, ‘n versoek tot die VSA Departement van Landbou (USDA) gerig, om ‘n aantal nuwe sowel as ouer kultivars in te voer. Die volgende cultivars is aangevra:

Apache, Barton, Caddo, Curtis, Forkert, Giles, Hopi, Kanza, Nacono, Oconee, Peruque, Riverside, VC-168, Prilop, en Osage. Die kultivar VC 168 behoort egter nie aan die USDA nie, en hulle kon dit nie verskaf nie. Die ander 14 kultivars is wel na Suid Afrika gestuur.

Onmiddelik na ontvangs op die lughawe, is die materiaal deur die Direktoraat vir Plantgesondheid van die Departement Landbou by Stellenbosch ondersoek om seker te maak dat dit siekte- en insekvry is. Hier is onder die mikroskoop waargeneem dat die kultivar Kanza, deur ‘n soort luis besmet is en al die entstokkies van daardie kultivar is vernietig.

Hierna is die entstokkies na die Departement se kwarantynstasie by Buffelspoort gestuur waar ‘n aantal saadbome wat deur Johan Ferreira geskenk is, reeds in die glashuise gestaan het. Willem Oosthuizen het al die kultivar stokkies oorgeënt op die saadbome en Hannes Kruger het onderneem om behulpsaam te wees met die versorging en toesig van die bome aldaar. Ongelukkig het die kultivars Prilop en Osage nie die kwarantyn oorleef nie.

Agtien maande later is die oorblywende geënte bome uit die kwarantynstasie vrygestel en in die oorspronklike plantsakke na Heiko Meier verskuif vir verdere versorging. Na die eerste winter is die bome oorgeplant in groter plantsakke en is al die beskikbare enthout gesny en gebruik om sodoende die plantmateriaal so vining moontlik te vermeerder. Die hoeveelheid entstokke wat gesny kon word, het egter geweldig gewissel van kultivar tot kultivar. By van die kultivars kon die eerste jaar minder as vyf stokkies gesny word, terwyl ander meer enthout gelewer het as wat gebruik kon word. Heiko het aangebied om een bedding met 30 bome van elke kultivaar te ent en gratis aan die bedryf beskikbaar te stel.

Die proses om een bedding te ent, het egter ‘n verdere jaar geneem omdat daar so min enthout van sekere kultivars beskikbaar was. Hannes Kruger het ook gelyktydig ou bome afgesaag en oorgewerk met die beskikbare enthout om variteite so vining as moontlik onder boordomstandighede te beproef. Na die tweede winter is entstokkies weer gesny en is 20 bome van elke kultivar in proefblokke by Hannes Kruger geënt. Die volgende drie jaar is hierdie geënte bome, asook entmateriaal daarvan, jaarliks beskikbaar gestel aan kwekers en aan produsente wat bereid was om proefrye van al 11 nuwe kultivars te plant en te monitor.

Die twee nuwe Suid-Afrikaanse kultivars Sutex en Alvina is ook bygevoeg. Daar was egter min belangstelling van die bestaande kwekerye op daardie stadium, omdat daar nie ‘n aanvraag vir die nuwe kultivars uit die bedryf was nie. Produsente was uiteraard huiwerig om produserende bome af te saag en oor te werk vir proefblokke, omdat hulle nie hul inkomste op risiko wou plaas nie. Daar was ‘n beperkte aanvraag vir Navaho entstokkies alhoewel Navaho bome wat tot op daardie stadium deur Heiko Meier versprei is, een van die kultivars was wat voorheen deur die LNR se Instituut vir Sitrus en Subtropiese gewasse ingevoer is.

Weens die gebrek aan belangstelling het Heiko moeite gedoen om jaarliks pakkies entstokkies en bondels geënte bome van al die kultivars op te maak en uit te stuur, om sodoende seker te maak dat die bome deur die hele land aangeplant word. As kwekeryverteenwoordiger, het hy hierdie inligting elke jaar op die Algemene Jaarvergadering bekend gemaak (sien notules).  In 2013 is weer aansoek gedoen vir ‘n aantal kultivars. Hierdie keer is Apalachee, Kanza (weer), Lakota, Lipan, Mandan, Tejas, Waco, Creek en Cape Fear aangevra. Ongelukkig het die Direktoraat vir Plantgesondheid se invoer regulasies sedert 2006 sodanig strenger geword, dat dit vir die USDA nodig sou wees om ‘n uitgerekte en duur proses te volg om te verseker dat die plantmateriaal siektevry is. Hierdie proses was nie op daardie stadium vir hulle moontlik nie en SAPPA se versoek kon nie aan voldoen word nie. Met die onlangse besoek van LJ Grauke van die USDA hier in Suid Afrika, is die proses weer aan die gang gesit.

Dit is dus duidelik dat, vanaf entmateriaal vanuit die VSA tot ‘n kommersiële gevestigde kultivar in Suid Afrika, ‘n moeisame proses is. Dit is egter van uiterste belang dat die regte prosedures gevolg word om siekte en insekverspreiding te voorkom. Ook is daar van die USDA se kant, die vereiste dat plantmateriaal alleenlik beskikbaar gestel sal word, as dit tot die hele bedryf se voordeel is en dat dit glad nie slegs enkele individue mag baat nie. Indien dit aan die lig kom dat entmateriaal “geskaak” word, sal alle samewerking vanuit die VSA gestaak word. Dit is dus belangrik dat die proses wat gevolg word deursigtig is, en dat ‘n amptelike instansie, soos SAPPA, hier die leiding neem.

Indien daar boere of kwekers is wat van die plantmateriaal of enthout wil bekom wat tans in die kultivar beddings in Heiko se kwekery is, kan hulle direk met hom in verbinding tree. (heiko@meier.co.za)  Enthout vir oorwerk van bome om eie proefblokke of genebronne te vestig is steeds beskikbaar. Maak asb vroegtydig voor Julie kontak as enthout of bome van die nuwe kultivars benodig word.

Weereens word daar ‘n beroep gedoen op boere wat ander lande besoek, om nie enige plantmateriaal, hetsy neute of entmateriaal, na Suid Afrika terug te bring nie. Die gevaar van siektes en insekte is net te groot. Maak ook seker dat tweedehandse masjienerie wat die land ingebring word, skoon en ontsmet is. Ons moet ons bedryf ten álle koste beskerm.

Dries Duvenhage (Streek 8)