Pekanneutkultivars

Pekanneutkultivars

deur Johan Oosthuizen. Ingelei deur Dries Duvenhage

Vooraf….

Waar het dit alles begin? Dit is die vraag wat in ‘n vorige artikel gevra is. Stukkies en brokkies inligting kon uit verskillende bronne bymekaar gemaak word, en hier en daar is iets in die literatuur gevind. Oor die algemeen het dit duidelik geword dat die oorsprong van pekans in Suid-Afrika nie goed gedokumenteer is nie.  Met die afskaling van die betrokkenheid van die nasionale Departement van Landbou se Instituut vir Tropiese en Subtropiese Gewasse, (ITSG), op Nelspruit, het daar ‘n groot leemte ontstaan. Met die drastiese uitbreiding van die pekanbedryf in Suid-Afrika, is daar ‘n groot aantal nuwe toetreders wat baie belang stel in die geskiedenis van hierdie bedryf waarin hulle belê en waarvoor hulle ‘n blink toekoms sien. In my rondsoek na inligting, het ek op die volgende artikel afgekom:  Dit is geskryf deur Johan Oosthuizen, ‘n bekende en gerespekteerde lid van die bedryf, en ‘n oud-navorser by die ITSG. Die artikel het in die Desember 2004 uitgawe van die SA pekan tydskrif verskyn.  Alhoewel die artikel reeds meer as 10 jaar gelede geskryf is, is die inligting steeds baie relevant en toepaslik. Johan het ingestem dat ons dit weer, met ‘n paar toevoegings en regstellings, kan plaas.

Uit die artikel is dit duidelik dat die ITSG geweldige waardevolle werk vir die pekan bedryf tot op daardie stadium gedoen het. Die verlies van al daardie insette en kundigheid is ‘n tragedie en ons as produsente moet, deur SAPPA, alles in ons vermoë doen om voort te bou met dit wat ons het.

Inleiding

Die keuse van kultivars is seker van die belangrikste, indien nie die belangrikste, besluit wat ‘n voornemende pekanneutprodusent moet maak. Vir suksesvolle en winsgewende verbouing van pekanneute, is dit noodsaaklik dat ‘n kultivar aan al die nodige vereistes ten opsigte van opbrengspotensiaal, siekte en – plaag-verdraagsaamheid, neutgrootte, kern persentasie, vorm, kleur, voorkoms en smaak van die kerne moet voldoen. Ongeag die bestuursinsette wat ‘n produsent maak, kan ‘n boord se prestasie slegs so goed wees as die inherente potensiaal van ‘n kultivar wat aangeplant word. Die belangrikheid van die korrekte kultivarkeuse word beklemtoon deur die feit dat pekanverbouing ‘n langtermyn belegging is. Onder die meeste aanvaarbare verbouingstoestande, kan goeie opbrengste nie verwag word voor jaar sewe of agt na aanplanting nie.

Die erns van kultivarkeuse verhoog verder indien ‘n onbeproefde kultivar aangeplant word. Die ideaal is om kultivars oor ‘n periode van minstens 20 jaar in ‘n spesifieke verbouingsgebied te evalueer, voordat hulle kommersieel aangeplant kan word. Min produsente vandag is egter bereid om so lank te wag en neem in elk geval die risiko om ‘n kultivar aan te plant wat as jóng boom homself bewys het. Meestal is die kans goed dat ‘n kultivar wat as jong boom goed presteer, ook as ‘n volwasse boom goed behoort te vaar. Kultivarevaluasie word reeds dekades lank in die VSA gedoen, en hierdie inligting kan baie goed deur Suid-Afrikaanse produsente gebruik word. Die klimaat van die VSA, alhoewel in die Noordelike halfrond, stem baie ooreen met die klimaat in dele van Suid-Afrika. Die Westelike verbouingsgebiede van SA het baie dieselfde klimaat as state soos Texas, New Mexico en Arizona, terwyl die oostelike dele van SA klimatologies goed vergelyk met areas in Georgia, Louisiana, Mississippi en Alabama met hoë reënval -en humiditeit.

Die doel van die artikel is om opsommend te berig oor die situasie rondom pekanneutseleksies en -kultivars in die VSA en te vergelyk met wat in Suid-Afrika beskikbaar is en tans aangeplant word.

Kultivar karaktereienskappe

Kennis van die karaktereienskappe van die verskillende pekankultivars is belangrik om besluite te kan neem van hoe om die kultivars te vestig in ‘n aanplanting. Die pekanneutboom is hermafrodities (eenhuisig) wat, beteken die manlike blomme, (ook genoem blomkatjies), en vroulike blomme word apart en op verskillende posisies, maar op dieselfde boom gedra. Pekanneutbome word deur wind bestuif en die inagneming van heersende windrigtings is ‘n belangrike faktor by keuses van aanplant van kultivars. Soos by ander plante waar wind die bestuiwer is, word stuifmeel in groot hoeveelhede geproduseer in die manlike blomkatjies. ‘n Elke primêre ogie, waarvan daar honderde is op ‘n enkele boom en waaruit manlike blomkatjies ontwikkel, kan meer as 5 miljoen stuifmeelkorrels produseer. Indien dit eweredig versprei sou word en vroulike blommme sou bestuif, sou dit meer as 45 ton pekanneute kon produseer. Stuifmeel kan sover as 5 km vanaf die moederboom versprei, maar bome in ‘n boord moet nie verder as  50 m vanaf ‘n geskikte stuifmeelbron wees nie.

Om kruisbestuiwing te verseker, ontwikkel manlike -en vroulike blomme by die verskillende pekanneutkultivars nie almal op dieselfde tyd nie.  Daar is ‘n verskil in die tyd wanneer ryp stuifmeel gestort word, en wanneer die vroulike blom ontvanklik is. Hierdie verskysel word genoem diagagomie, van die Grieks afgelei; diaga- wat twee beteken en gomie wat huwelik beteken. Diagagomie verseker dus dat kruisbestuiwing tussen verskillende bome en ook verskillende kultivars plaasvind. Waar die manlike blomme eerste ontwikkel en gereed is om stuifmeel te stort, word na verwys as ‘n tipe I  kultivar (“protandrous”) en waar vroulike blomme eerste ontwikkel voordat manlike blomme stuifmeel stort, word verwys na ‘n tipe II   kultivar (“protogynous”). Die blomkatjies by tipe I kultivars is ook korter en dikker is as die lang en smaller blomkatjies van tipe II kultivars. Behalwe die kleur, vorm en grootte van die stempel, is daar min verskille by vroulike blomme. Die vroulike blom van pekanneut het geen kleurvolle kroonblare of nektar nie en insekte speel dus geen rol by bestuiwing nie.

Die pekanneutboom kan wel self bestuif, (veral tipe I kultivars) maar kruisbestuiwing word verkies omdat dit meer voordelig is vir bevrugting en ontwikkeling van die neutkern. Kultivars in ‘n boord moet so gevestig word dat  kruisbestuiwing effektief kan plaasvind. Navorsing in die VSA het gevind dat 20 % bestuiwer bome in ‘n aanplanting gevestig moet word.

Ander eienskappe, soos die tyd wat ‘n boom bot na die winterrusperiode, produktiwiteit, tyd van blaarval en alternatiewe drag, asook  weerstand teen siektes (bv. skurfsiekte) en plae (bv. geelpekanplantluis) speel ook ‘n bepalende rol by kultivarkeuse in verskillende klimaatsgebiede.

Oorsprong van kultivars in die VSA

Daar is hoofsaaklik drie bronne in die VSA waaruit pekanseleksies en later kultivars ontstaan het nl., inheemse natuurlike bome (sogenaamde “natives”), seleksies vanuit aangeplante saailingbome en kultivars vanuit ‘n teelprogram. Alhoewel daar ‘n groot aantal inheemse, natuurlike bome is in die VSA, is slegs ‘n klein hoeveelheid kommersiële kultivars geselekteer uit hierdie bron. Die meeste belangrike kommersiële kultivars is geselekteer uit saailingboorde wat aangeplant is ((seker nou nie meer so in beide die VSA, Mexiko of SA nie. Meeste nuwe aanplantings is nou veredelde kultivars soos onder andere Pawnee, Desirable, Choctaw en Wichita)). Kultivars uit teelprogramme is in die vroeë 1900’s in die VSA geïnisieer. Alhoewel heelwat kultivars vanuit hierdie teelprogramme vrygestel is, het min hulself nog bewys ((nou het ‘n hele paar hulself oor die jare bewys nie net in die VSA nie (bv. Desirable) maar ook in SA (Wichita en Choctaw)) as bome wat kommersieel aanvaarbaar is en wyd aangeplant word.

Pekankultivars in die VSA is ontwikkel en geselekteer vir ‘n wye verskeidenheid klimaatsgebiede en -toestande, en die belangrikstes word gelys en kortliks bespreek (diagagomie tipe van elke kultivar ((1 of 2)) word in hakkies aangedui na elke kultivarnaam).

Daar is die sogenaamde vier standaard kultivars nl., Desirable (I), Schley (ll), Stuart (ll) en Western Schley (I). Desirable en Stuart is die belangrikste kultivars in veral die suid-oostelike verbouingsgebiede en bedra die grootste persentasie van die totale VSA pekanneutoes. Schley was in ‘n stadium beskou as die standaard vir neutkwaliteit, en was baie gewild by verbruikers. Die kultivar het egter vatbaar begin word vir skurfsiekte en bome is oorgeënt na meer weerstandbiedende kultivars. Western Schley is by verre die kultivar wat die meeste aangeplant is in westelike pekanverbouingsgebiede van die VSA. In Australië by Stahmann Farms, is ‘n 40 jaar oue aanplanting waar Western Schley en Wichita in kombinasie geplant is en goeie opbrengste word steeds behaal. Western Schley (I) en Wichita (ll), vul mekaar dus goed aan en voldoende kruisbestuiwing vind in hierdie geval plaas.

Die ou, maar steeds produserende kultivars, wat nie meer aangeplant word nie is, Curtis (I), Delmas (II), Elliott (ll), ldeal (ll), Moneymaker (ll), Pabst (I), Squirrel’s Delight (I) en Van Deman (ll). Daar is ook ou, marginale kultivars wat nou vervang word soos Burkett (ll), Frotcher (ll), Halbert (I), Mahan (ll), Moore (I), Nelson (I), Success (I), Teche (ll) en Texas Prolific (I). Delmas is die belangrikste kultivar wat in Israel aangeplant is. Burkett en Halbert was op ‘n staduim die belangrikste en mees produktiefste kultivars in Texas en suid-wes Oklahoma. Mahan is ‘n groot neut en is baie gebruik as ouer in teelprogramme, terwyl Success ook op ‘n staduim ‘n belangrike kultivar was en ook as ouer in baie kruisings gebruik is.

Die Landbou Departement van die VSA (USDA), het met hul teelprogram onder andere die volgende kultivars beskikbaar gestel: Apache (ll), Barton (I), Caddo (I), Cherokee (I), Cheyenne (I), Chickasaw (ll), Choctaw (ll), Comanche (ll), Houma (I), Kiowa (ll), Mohawk (ll), Oconee (I), Osage (I), Pawnee (I), Shawnee (ll), Shoshoni (ll), Sioux (ll), Tejas (ll) en Wichita (ll). Met uitsondering van Barton, wat die eerste kultivar is wat vrygestel is uit die teelprogram, het al die USDA kultivars name van lndiaanstamme en word daar soms na verwys as die “Indiaan variteite”. Dit is gedoen in erkening aan die inheemse Indiaan bevolking van die VSA en die rol wat hulle gespeel het met die verspreiding en bekendstelling van pekanneute.

Kultivars met ‘n kort groeiseisoen, die sogenaamde noordelike kultivars, geselekteer vir noordelike state in die VSA met lang winters en kort somers is: Green River (ll), lndiana (ll), Major (I), Peruque (I) en Posey (ll). Major is die standaard kultivar in die noordelike state. lnteressant is dat een van die noordelike kultivars Witte, (nie beskikbaar in SA) beskou word as die kultivar met die kortste groeiseisoen van 137 dae van bot tot neut rypwording. As gevolg van die kort groeiseisoen is die neute klein.

Daar is ook ander nuwe kultivars wat na ‘n periode van evaluasie vrygestel is nl. : Cape Fear (I), Forkert (ll), Gloria Grande (ll), GraBols (ll), GraTex (ll), Harris Super (ll), Maramec (ll), Melrose (ll), Moreland (ll), Sumner (ll), en Woodard (I).

Pekanneutkultivars in Suid-Afrika

‘n Groot aantal van bogenoemde kultivars van die VSA (in vetdruk) is reeds voor 1980 na Suid-Afrika gebring en is op ‘n kommersiële skaal aangeplant of is in geneblokke en/of -evaluasieblokke op proefplase van die ITSG gevestig. Plantmateriaal van ‘n aantal kultivars wat nie bo genoem word nie, is ook ingevoer, maar is nie op ‘n kommersiële skaal aangeplant nie nl.:  Big Z of Zink (ll), Bradley (ll), Brake (I), Busseron (I), Butterick (ll), Candy (ll), Caspiana (I), Commonwealth (ll), Gallatin (ll), Goforth (ll), Harmon (ll), Kincaid (ll), Nellis (ll), en Williamson (I).

Evaluasie en- geneblokke is gevestig in die sogenaamde ou tradisionele verbouings-gebiede van die oostelike Laeveld (Nelspruit), die suid-oostelike kusgebiede (Natal – Ukulinga proefplaas en Addo Navorsingstasie) en in Pretoria (Roodeplaat).* Geen evaluasie of genebloke is tot dusver in die westelike verbouingsgebiede gevestig nie. Kultivars word tans kommersieel aangeplant in lg gebiede op grond van hulle prestasie by die eerste produsente wat pekanneute in die gebiede geplant het.

‘n Aantal seleksies, hoofsaaklik uit saailinge, is ook geselekteer in SA. Een hiervan nl,. Ukulinga (ll), het kultivarstatus behaal en word tans kommersieel aangeplant. Ander seleksies soos Beatrice, Eden, Goliath, Gold Mine, Good Hope, Hamann, Jackson, Lane, Le Roux, MacDonald, Maria, Marina, Mataffin, Natalia, Staniland en Vlok is ook aangeplant en word tans nog geëvalueer of word op grond van hulle prestasie nie meer aangeplant nie.

‘n Aantal van bogenoemde kultivars (Cape Fear, Delmas, Forkert, GraBols, GraTex, Harris Super, Houma, Maramec, Moreland, Oconee, Osage, Tejas en Woodard) en ander (Largo, Navaho, Pensacola Cluster (ll), Schley x McCulley en Nugget x Barton) is onlangs eers na SA ingevoer en dit sal nog geruime tyd duur voordat die kultivars geëvaulueer is en kommersieel aangeplant sal word.

Aanbevelings

In die oostelike Laeveld en die suid-oostelike kusgebiede is aanbevelings van kultivars beperk tot die kultivars wat weerstand bied teen siektes (skurfsiekte) en plae (geelpekanplantluis). Kultivars in die groep wat hulle self al bewys het en wat in evaluasieblokke gevalueer is, is Barton, Shoshoni en Ukulinga. Meer vatbare kultivars soos Choctaw en Mohawk, wat goeie opbrengste van goeie gehalte produseer kan verbou word, indien beheer van siektes en plae met goeie bestuur toegepas word. ‘n Hoë opbrengspotensiaal (1500 kg/ha as basis in vergelykings), en gereelde, konstante opbrengste van goeie gehalte is en bly ‘n belangrike besluit by die keuse van kultivars.

In die westelike verbouingsgebiede met kort, koue winters en lang, warm somers, soos dele van noordwestelike Limpopo provinsie, Noord-Wes provinsie, Vaalharts en die benede Vaal en Oranje-riviere, word kultivars soos Barton, Choctaw, Mohawk, Pawnee, Ukulinga en Wichita aanbeveel. **

Die sogenaamde noordelike kultivars van die VSA behoort ook goed te doen in gebiede met lang winters en relatief kort somers soos die Hoëveld, westelike dele van Natal, westelike dele van Oos-Kaap en Oos-Vrystaat. Kultivars in die groep wat na SA ingevoer is, is egter net in geneblokke gevestig en nie altyd beskikbaar by kwekerye nie.

Dit is ook belangrik om kultivars apart in rye te vestig sodat neute van die verskillende kultivars apart geoes kan word. Kultivars moet ook in oorleg met konsultante en medeprodusente gekies word. Die beskikbaarheid van bome en spesifieke kultivars by kwekerye in SA is in baie gevalle ‘n bepalende faktor as dit kom by die keuse van ‘n kultivar.

Opsomming

Daar is geen ideale kultivar nie en dit is baie onwaarskynlik dat daar ooit een sal wees. Met gedurige veranderde tegnologie, voorkeure van verbruikers en peste en plae wat weerstand opbou, sal daar voortdurend na nuwe kultivars gesoek word. Pekankultivarseleksie het maar slegs oor die afgelope 100 jaar ontwikkel terwyl daar kultivars by sommige boomgewasse is wat al honderde jare gedoen word. Voordat pekankultivars ‘n werklikheid kon word, moes tegnieke vir vegetatiewe voortplanting eers ontwikkel word. Vegetatiewe voortplanting was ‘n noodsaaklikheid omdat die pekan hetrosigoties is, wat beteken dat saailinge nie replikas van die moederboom is nie. Die saad of dan neut wat geplant word, sal in die meeste gevalle nie so presteer soos die moederboom nie. Saailingbome het dikwels ook ‘n lang jeugfase en kan langer as 10 jaar neem om in produksie te kom met die risiko dat dit moontlik klein, onbruikbare neute kan produseer. Die aanplanting van saailingbome word dus glad nie aanbeveel nie. Een van die bekende tuinboukundiges van die VSA wat gemoeid was met die teel van kultivars het die stelling gemaak: “A cultivar is a transition in the endless pursuit of perfection”.

Die volgende is ‘n lys van al die kultivars wat in SA is (in hakies, die jaar wanneer dit bekend gestel is in die VSA, die bron van die kultivar en wanneer dit na SA gebring is).

JOHAN OOSTHUIZEN

Desember 2004

* Van hierdie proefblokke bestaan nie meer nie

**Maak seker van die aanbeveling in u gebied

Lys van Pekanneutkultivars in S.A.

Standaard kultivars

Desirable (1948, Success X Jewett, voor 1980) Schley (1898, Stuart saailing, voor 1980)

Stuart (1886, “native” saailing, voor 1980)

Western Schley (1924 San Saba saailing voor 1980 en weer in 1995)

Ou, winsgewende (“profitable”) cultivars

Curtis (1896, Turkey Egg saailing, voor 1980)

Delmas (1885, “native” saailing, (AUS) 1995)

Elliott (1925, “native” saailing, voor 1980)

ldeal (1930, “native” saailing, voor 1980)

Moneymaker (1896, “native” saailing, voor 1980) Pabst (1875-1893, “native” saailing, voor 1980) Squirrel’s Delight (1896, San Saba saailing voor 1980)

Van Deman (1877, “native” saailing, voor 1980)

Ou, submarginale kultivars

Burkett (1911, “native”, voor 1980)

Frotcher (1882, “native” saailing, voor 1980)

Halbert (1901, “native”, voor 1980)

Mahan (1927, “native” saailing, voor 1980)

Moore (1908, “native” saailing, voor 1980)

Nelson (1904, “native” saailing voor 1980)

Success (1903, “native” saailing, voor 1980)

Teche (1906 “native” saailing, voor 1980)

Texas Prolific (1899 nou Sovereign, voor 1980)

“USDA” kultivars

Apache (1962, Burkett X Schley, voor 1980)

Barton (1953, Moore X Success, voor 1980)

Caddo (1968, Brooks X Alley, voor 1980)

Cherokee (1971, Schley X Evers, voor 1980)

Cheyenne (1970, Clark X Odom, voor 1980)

Chickasaw (1972, Brooks X Evers, voor 1980)

Choctaw (1959, Success X Mahan, voor 1980)

Comanche (1955, Burkett X Success, voor 1980)

Houma (1990, Desirable X Curtis, 1996)

Kiowa (1976 Mahan X Odom of Mahan X Desirable, 1993)

Mohawk (1965, Success X Mahan, voor 1980)

Oconee (1990, Schley X Barton, 1996)

Osage (1990, Major X Evers, 1996)

Pawnee (1984 Mohawk X Starking Hardy Giant 1993)

Shawnee (1968, Schley X Barton, voor 1980)

Shoshoni (1972, Odom X Evers, voor 1980)

Sioux (1962, Schley X Carmichael, voor 1980)

Tejas (1973, Mahan X Risien 1, 1995)

Wichita (1959, Halbert X Mahan, voor 1980)

 

Ander nuwe kultivars

Cape Fear (1941, Schley saailing, 1995)

Forkert (1940, Success X Schley, AUS 1995)

Gloria Grande (1923, saailing, 1993)

GraBols (1973, saailing, AUS 1995)

GraTex (1962, ldeal X Success, AUS 1995)

Harris Super (1960, saailing, 1995)

Maramec (1969, Mahan saailing, 1995)

Melrose (1979, “native”, 1981)

Moreland (1925, saailing, 1995)

Sumner (1952, saailing, 1993)

Woodard (1982, saailing, 1996)

Northern Cultivars

Green River (1911, “native”, voor 1980)

lndiana (1909, “native”, voor 1980)

Major (1908, “native”, voor 1980)

Peruque (1953, “native”, voor 1980)

Posey (1911, “native”, voor 1980)

SA, ou invoere (voor 1980)

Big Z of Zink (1941, saailing)

Bradley (1898, saailing)

Brake (1934, saailing)

Busseron (1907, “native”)

Butterick (1910, “native”)

Candy (1913, saailing)

Caspiana (1914, saailing)

Commonwealth (1927, Longfellow X Sovereign) Gallatin (1943, “native”)

Goforth (1943, “native”, voor 1980)

Harmon (1934, sailing, voor 1980)

Kincaid (1900, “native”, voor 1980)

Nellis (1932, saailing, voor 1980)

Williamson (19341, saailing, voor 1980)

SA seleksies

Beatrice (saailing seleksie)

Goliath (saailing seleksie)

Gold Mine (saailing seleksie)

Good Hope (saailing seleksie)

HLH Frotcher (saailing seleksie)

HLH 26/7 (saailing seleksie)

HLH B9/2 (saailing seleksie)

Lane (saailing)

Le Roux (saailing seleksie)

Marina (saailing seleksie)

Mataffin (saailing seleksie)

Meynhardt (saailing seleksie)

Natalia (saailing seleksie)

Ukulinga (saailing seleksie, Le Roux, J.C., Natal, Ukulinga navorsingstasie)

Vlok (saailing)

SA, nuwe invoere

Largo (AUS 1995)

Navaho ( 1996)

Pensacola Cluster (1960, saailing, AUS 1995) Schley X McCulley (AUS 1995)

Nugget X Barton (AUS 1995)