When SAPPA first shared Ebrahim Mohamed’s story in February 2023, it introduced readers to a…

Vaalharts Pekanneut Snoei-opledingsdag 2026
Geskryf deur Vaalharts Landbou Unie
Die jaarlikse Pekanneut Snoei-Opleidingsdag het op Woensdag 22 Julie 2026 by die Vaalharts Distrikslandbou-unie in Hartswater plaasgevind en was weereens ’n groot sukses. Altesaam 89 persone het die opleidingsdag bygewoon, met produsente en werkers wat selfs van ander gebiede gereis het om die dag by te woon.
Die opleiding is deur Hardus du Toit en Ivan Schubach van SAPPA aangebied. Vanjaar se program het sterk op praktiese opleiding gefokus. Drie opleidingstasies is in die boorde ingerig: die eerste het op die vorming en snoei van tweejarige bome gefokus, die tweede op vyf- tot sewejarige bome, en die derde op volwasse bome van tien jaar en ouer.
Teenwoordiges het ook die geleentheid gekry om self te snoei en die tegnieke wat tydens die demonstrasies behandel is, prakties toe te pas. Hierdie praktiese benadering het waardevolle ervaring gebied en deelnemers met groter kennis en selfvertroue vir die komende snoeiseisoen toegerus.
Die uitstekende opkoms en entoesiasme van die deelnemers beklemtoon die belangrikheid van korrekte snoeimetodes. Behoorlike snoei speel ’n sleutelrol in die gesondheid, produktiwiteit en langtermynwinsgewendheid van pekanneutboorde. Deurlopende opleiding soos hierdie dra daartoe by dat produsente en hul werkers op hoogte bly van die beste praktyke en tegnieke binne die bedryf.
Nutmech was ’n trotse ondersteuner van die dag en het ’n verskeidenheid van snoeitoerusting gedemonstreer. Teenwoordiges kon nie net die toerusting in aksie sien nie, maar het ook praktiese wenke ontvang oor die veilige en doeltreffende gebruik daarvan.
’n Spesiale woord van waardering gaan aan SAPPA vir hul voortgesette ondersteuning en die belangrike rol wat hulle speel om hierdie opleidingsdag jaar ná jaar moontlik te maak. Met nog ’n suksesvolle opleidingsdag agter die rug, sien die Vaalharts-pekanneutprodusente reeds uit na volgende jaar se geleentheid.

