When SAPPA first shared Ebrahim Mohamed’s story in February 2023, it introduced readers to a…

SAPPA se markontwikkeling: Aksies, geleenthede en vordering
Ons bou vandag aan die markte van môre
Die Suid-Afrikaanse pekanneutbedryf is in ’n belangrike groeifase. Met toenemende produksie, veranderende internasionale markte en nuwe geleenthede wêreldwyd, is dit belangrik dat SAPPA voortdurend werk om meer markte, meer marktoegang en meer opsies vir Suid-Afrikaanse produsente te skep.
Sedert Januarie 2026 het SAPPA ’n groot aantal markontwikkelings- en marktoegangsaksies onderneem. Die onderstaande is slegs van die belangrikste hoogtepunte. Daagliks word navrae, potensiële kopers, markgeleenthede en marktoegangsake opgevolg.
Markontwikkeling neem tyd. Nuwe markte word nie oornag gevestig nie – dit vereis verhoudings, gesprekke, produkbeskikbaarheid, voedselveiligheid, marktoegang en uiteindelik vertroue tussen Suid-Afrikaanse verskaffers en internasionale kopers.
’n Gebalanseerde markstrategie
SAPPA se benadering is om beide ons bestaande markte te ondersteun en terselfdertyd nuwe markte te ontwikkel.
China bly ’n belangrike mark vir Suid-Afrikaanse pekanneute en daar is steeds geleenthede om hierdie mark verder te ontwikkel. Dit is daarom belangrik dat SAPPA steeds aandag en van die beskikbare fondse aan China bestee.
SAPPA is bewus van die risiko van ’n bedryf wat sterk afhanklik van een mark is. Daarom werk ons doelbewus daaraan om alternatiewe markte te ontwikkel.
Die doel is nie om van bestaande markte weg te beweeg nie, maar om meer opsies vir ons produsente en verwerkers te skep.
SAPPA werk binne die produk, kapasiteit en fondse wat die bedryf beskikbaar stel. Ons fokus is om hierdie hulpbronne so strategies as moontlik aan te wend en waar moontlik die grootste impak vir die Suid-Afrikaanse pekanneutbedryf te skep.
Markontwikkeling en internasionale betrokkenheid
Gulfood – Verenigde Arabiese Emirate
SAPPA het die Gulfood-skou in die Verenigde Arabiese Emirate bygewoon en strategiese afsprake met potensiële kopers gevoer.
Die span het ook doelgerig deur die skou beweeg en uitstallers besoek wat moontlik pekanneute as ’n finale produk of as bestanddeel in hul produkte kan gebruik. Die doel was om bewustheid van Pecans from South Africa te verhoog en nuwe kommersiële geleenthede te identifiseer. Tydens ons besoek het ons besef dat die skou uitstekende sakegeleenthede bied, veral weens die teenwoordigheid van ’n groot verskeidenheid internasionale kopers. Daarom het ons besluit om reeds ’n stalletjie vir volgende jaar te bespreek.
Hefei – China
SAPPA het die Hefei-skou in China bygewoon en aan twee paneelbesprekings deelgeneem om groter bewustheid van die Suid-Afrikaanse pekanneutbedryf te skep.
Strategiese gesprekke is ook met maatskappye gevoer oor moontlike co-branding-geleenthede wat verdere bewusmaking van Suid-Afrikaanse pekanneute onder Chinese verbruikers en kopers kan ondersteun.
INC – Macao, China
SAPPA het ook een van die lede van die Markontwikkelingskomitee gestuur om namens die Suid-Afrikaanse bedryf aan ’n pekanneut-paneelbespreking by die INC-byeenkoms deel te neem.
Hierdie geleenthede is belangrik om Suid-Afrika se stem binne die internasionale pekanneutbedryf te versterk en om verhoudings met internasionale rolspelers te bou. Ons ondersoek tans die moontlikheid om die INC-kongres in 2027 in Brasilië by te woon en ’n paneelbespreking te borg.
Internasionale kopersbesoeke
SAPPA het potensiële internasionale kopers in Suid-Afrika in 2025 ontvang. Die besoeke het gelei tot talle opvolggesprekke tydens Gulfood en verdere betrokkenheid.
Een van die konkrete resultate was die eerste houer wat na Indië uitgevoer is, nadat die koper tydens die markontwikkelingsproses met SAPPA in aanraking gekom het.
Dit is presies hoe markontwikkeling behoort te werk: eers word die verhouding gebou, dan die geleentheid ontwikkel en uiteindelik word dit ’n kommersiële transaksie.
Van indop na kern – nuwe geleenthede
Een van die belangrikste fokusareas vir SAPPA is die ontwikkeling van voldoende krakings- en verwerkingskapasiteit.
Baie van die nuwe internasionale markte wat SAPPA ondersoek, benodig pekanneutkern. Die beskikbaarheid van voldoende kernvolume is tans een van die grootste uitdagings wanneer hierdie markte ontwikkel word.
SAPPA voer daarom voortdurend gesprekke met verwerkers en produsente oor die belangrikheid daarvan om meer kapasiteit te skep en meer produk vir alternatiewe markte beskikbaar te stel.
Die doelwit is om 15% van Suid-Afrika se pekanneutproduksie na alternatiewe markte te verskuif.
Hierdie proses ontwikkel geleidelik. Die huidige kernpryse, tesame met verbeterings in krakingstegnologie, maak kernproduksie toenemend aantreklik. SAPPA verwag dat alternatiewe markte daarom in die nabye toekoms ’n groter rol kan begin speel.
Eerste uitvoere na nuwe markte
Gedurende die jaar is die eerste houers deur Suid-Afrikaanse verwerkers na Israel, Indië en Dubai verkoop.
Die uitvoer na Indië is ’n besonder goeie voorbeeld van hoe SAPPA se markontwikkelingswerk tot konkrete geleenthede kan lei.
Marktoegang en voedselveiligheid
Markontwikkeling kan slegs suksesvol wees indien Suid-Afrika aan die vereistes van internasionale markte kan voldoen. Daarom is marktoegang, voedselveiligheid en GAP ’n belangrike deel van SAPPA se werk.
GAP – ’n belangrike bousteen vir die toekoms
SAPPA is tans besig met die ontwikkeling van ’n Good Agricultural Practices (GAP)-standaard vir die pekanneutbedryf.
Die fokus is daarop om GAP op plaasvlak so prakties en gebruikersvriendelik moontlik te maak, terwyl produsente steeds aan die toepaslike wetlike vereistes kan voldoen.
SAPPA poog om die dokument teen Desember aan die Departement van Landbou beskikbaar te stel vir insette en verdere onderhandelinge, waarna die proses tot gazettering kan voortgaan.
Die ontwikkeling van GAP word deur die Departement van Landbou gedryf, en SAPPA is die geleentheid gebied om die standaard spesifiek vir die pekanneutbedryf te ontwikkel.
GAP is nie bloot ’n administratiewe oefening nie. Dit is ’n belangrike bousteen vir toekomstige marktoegang en die Suid-Afrikaanse bedryf se vermoë om internasionaal mee te ding.
VSA-mark
In samewerking met DTIC het SAPPA ’n dokument aan verwerkers beskikbaar gestel wat die proses vir die uitvoer van pekanneute na die VSA uiteensit.
Die dokument bevat ook inligting oor potensiële kopers en die relevante wetlike vereistes. Dit skep moontlikhede om ook indop-pekans aan die VSA-mark te lewer en sodoende die mark verder te ontwikkel.
Indië
SAPPA het skrywes aan DTIC en AGBIZ gerig oor bestaande marktoegangsuitdagings in Indië, insluitend die Plant Quarantine Protocol en die huidige tarief van 30%.
Indonesië
SAPPA het die Departement van Landbou genader oor marktoegang tot Indonesië.
Mexiko
SAPPA is tans besig met ’n proses met die Departement van Landbou oor marktoegang tot Mexiko. Dit kan ’n verdere geleentheid skep om indop-pekans na die Mexikaanse mark te bemark.
Europese Unie – Nikkel-MRL
SAPPA is ook aktief betrokke by die proses rondom die Nikkel-MRL vir pekanneute in die Europese Unie.
Die huidige MRL-kwessie beperk Suid-Afrika se toegang tot hierdie belangrike mark. SAPPA voer daarom gesprekke met DG SANTE van die Europese Kommissie en Frucom om die kwessie aan te spreek en Suid-Afrika se toegang tot die Europese mark te help herstel deur om die MRL te verhoog na 10ppm
Verbruikersbewusmaking – Pecans from South Africa
Markontwikkeling gaan nie net oor kopers en uitvoere nie. Verbruikers moet ook weet wat Suid-Afrikaanse pekanneute is, waar dit vandaan kom en waarom dit ’n produk is wat hulle kan geniet.
SAPPA gaan daarom voort met generiese verbruikersbewusmaking deur Instagram en TikTok.
Die Pecans from South Africa Instagram-platform het tans ongeveer 9 351 volgelinge.
Pecans from South Africa – Instagram
China – Golden Week-bewusmakingsveldtog
China se Nasionale Dag “Golden Week”, wat van 1 tot 7 Oktober plaasvind, bied ’n uitstekende geleentheid om Suid-Afrikaanse pekanneute onder Chinese verbruikers verder bekend te stel.
SAPPA gebruik hierdie geleentheid met ’n geteikende sosiale-mediaveldtog om Pecans from South Africa se bewustheid en verbruikersbetrokkenheid te verhoog.
Die veldtog behels 10 KOL’s (Key Opinion Leaders) met ’n gesamentlike volgelingebasis van ongeveer 7,3 miljoen oor platforms soos Weibo, Red Note, Douyin, WeChat Video Channel, Kuaishou, Ctrip en Dazhongdianping. 2026 KOL recommendation
Die veldtog se projeksies dui op ongeveer:
- 9,67 miljoen indrukke
- 14 350 betrokkenhede
- 10 KOL’s
- 7,3 miljoen gekombineerde volgelinge
Die KOL’s fokus op verskillende verbruikersbelangstellings, waaronder:
- Kos en kook, insluitend resepte en alledaagse maaltydidees;
- Leefstyl en alledaagse lewe;
- Reis en koservarings;
- Gesin en ouerskap;
- Sport en welstand; en
- Produk-aanbevelings en leefstylinhoud.
Die doel is om Suid-Afrikaanse pekanneute nie net as ’n premiumneut te posisioneer nie, maar as ’n veelsydige produk wat deel kan vorm van alledaagse kos- en leefstylkeuses.
Ons werk aan die toekoms van die bedryf
Die aksies hierbo verteenwoordig slegs ’n gedeelte van SAPPA se markontwikkelings- en marktoegangswerk gedurende 2026. Elke week word nuwe navrae, potensiële kopers, markgeleenthede en marktoegangsuitdagings opgevolg.
Ons moet ook realisties wees: markontwikkeling vat tyd. Nie elke gesprek lei onmiddellik tot ’n bestelling nie, en nie elke potensiële mark ontwikkel tot ’n kommersiële mark nie. Dit is egter juis deur voortdurend gesprekke te voer, verhoudings te bou en Suid-Afrikaanse pekanneute aan nuwe kopers en verbruikers bekend te stel dat toekomstige markte ontwikkel word.
SAPPA se verantwoordelikheid is om die beskikbare fondse en hulpbronne van die bedryf so strategies moontlik aan te wend. Dit beteken om bestaande markte te ondersteun waar daar steeds geleenthede is, terwyl ons terselfdertyd die fondamente vir nuwe markte lê.
Ons kan nie wag totdat ons ’n mark nodig het voordat ons dit begin ontwikkel nie.
Ons moet vandag die verhoudings en geleenthede bou wat die bedryf môre nodig gaan hê.
SAPPA sal daarom voortgaan om internasionaal deure oop te maak, met kopers en regeringsinstansies te skakel, marktoegang aan te spreek, verbruikersbewusmaking te bou en saam met produsente en verwerkers te werk om meer van Suid-Afrika se pekanneute wêreldwyd te bemark.
SAPPA het reeds verhoudinge/lidmaatskap met:
AG-BIZ, AgriSA, INC, Frucom, USA Embassy, China Embassy en konsulaat, DTI, DOA, Pecan South, Fertsa, SABO en Croplife
Ons is positief oor die geleenthede wat voorlê. Daar is nog baie markte om te ontwikkel, baie verbruikers om te bereik en baie geleenthede om te ontgin.
SAPPA bly daarop gefokus om in die beste belang van die Suid-Afrikaanse pekanneutbedryf op te tree en die maksimum waarde uit die beskikbare produk, fondse en geleenthede te skep.
Ons hou julle op hoogte soos die verskillende inisiatiewe vorder – en ons gaan voort om te soek na die volgende geleentheid vir Suid-Afrikaanse pekanneute.
