Skip to content
Monitering

Boordsanitasie en Insekmonitering

Met die oestyd wat ten einde loop en snoeiwerk in volle swang, voel dit dalk of ‘n mens nou eers ‘n blaaskans kan neem voor die volgende seisoen begin. Maar kan ons regtig?

In werklikheid het die voorbereiding vir die nuwe seisoen reeds begin. Goeie boordsanitasie is die eerste stap om die volgende oes te beskerm. Die werk wat jy nou doen, sal eers oor die volgende paar maande of selfs jare sy volle vrugte afwerp, dis die aard van pekanboerdery. Jy werk vandag om in die toekoms te oes.

Hoekom boordsanitasie nou belangrik is:

Effektiewe boordsanitasie speel ‘n sleutelrol in die beheer van ongewenste insekpopulasies. Die doel is om oorlewingsplekke en voedselbronne vir peste te vernietig, sodat hul lewensiklus onderbreek word en die nuwe seisoen met laer insekgetalle begin. Hier is ‘n paar praktiese riglyne:

  • Verwyder alle neute van die bome.
  • Hou die boordvloer neutvry. Oorblywende neute kan fyngemaak word met ’n mulcher, in die grond ingewerk of gekomposteer word.
  • Bestuur uitskotmateriaal van skoonmaak-aanlegte behoorlik. Maak dit fyn indien moontlik, begrawe dit, of bedek dit met ‘n seil vir minstens drie maande om uitbroeiende insekte te beheer.
  • Saniteer snoeitoerusting gedurende gebruik om siekteverspreiding te voorkom.
  • Verwyder gebreekte takke en alle gesnoeide materiaal. Hierdie kan gekerf of uit die land verwyder word.
  • In gebiede met ‘n hoë humiditeit is dit raadsaam om net voor bot ‘n saniteringspuit toe te dien sodat nuwe botsels aan ‘n laer swambelasting blootgestel word.
  • Maak alle toerusting behoorlik skoon ná gebruik — dit sluit oes- en snoeitoerusting in — sodat dit nie as buite-seisoen kosbron vir peste dien nie.

Insekmonitering: Jou volgende stap

Die volgende kritieke stap in die beskerming van jou oes is sistematiese monitering — veral van insekplae. Bot is net 4 tot 6 weke weg.

  • Gaan jou feromoonlokvalle nou na en vervang waar nodig.
  • Bestel betyds nuwe “lures” by jou gewasbeskermingsagent.
  • Moniteer plae soos die Afrika-bolwurm, sodat jy middels op die regte tyd en op die mees effektiewe wyse kan toepas.
  • Raadpleeg jou gewasbeskermingspesialis oor insekbeheerstrategieë en maak seker jy verstaan watter lewensfase van die plaag geteiken word en hoe die produk werk.

Meer praktiese inligting oor monitering is beskikbaar op SAPPA se webtuiste. Klik hier om na die moniteringsvideo te gaan (tweede video onder Someraktiwiteite):  https://www.sappa.za.org/training-videos/

Back To Top