13 Julie 2026 Saamgestel deur Kobus Hartmann Opsomming -Gebruik van plantgroeireguleerders, wat natuurlike fito-hormone en…

Die impak van R707 op pekanneutboere in Suid-Afrika
Die onlangse gazettering van Regulasie R707 bring belangrike veranderinge vir Suid-Afrika se landbou-uitvoersektor, veral vir die pekanneutbedryf. Die regulasie, wat fokus op voedselveiligheid en higiëne vir uitvoerprodukte van plantaardige oorsprong, sluit nou ook boomneute soos pekanneute in.
Vir pekanneutboere beteken dit dat strenger vereistes ingestel word met betrekking tot naspeurbaarheid, rekordhouding en goeie landboupraktyke (GAPs). Aangesien die meerderheid van Suid-Afrika se pekanneute uitgevoer word, is voldoening aan internasionale standaarde noodsaaklik om marktoegang te behou.
Een van die grootste uitdagings vir produsente is die verhoogde administratiewe las wat met hierdie vereistes gepaard gaan. Die voordeel van voldoening aan R707 is egter beter marktoegang en groter vertroue by internasionale kopers.
’n Belangrike ontwikkeling in die bedryf is dat die South African Pecan Nut Producers Association (SAPPA), in samewerking met Anelich Consulting, die afgelope jaar besig is om ’n GAP- en GMP-standaard vir die pekanneutbedryf te ontwikkel. Hierdie standaard is saamgestel deur bestaande praktyke en riglyne uit ander pekanneutproduserende lande te bestudeer en dit toepaslik vir Suid-Afrikaanse toestande aan te pas. Die doel was om ’n praktiese standaard te ontwikkel wat implementering vir produsente so eenvoudig as moontlik maak.
Nou dat R707 gegazette is, kan die standaard finaal afgehandel word. Die dokument sal aan die Departement van Landbou voorgelê word vir kommentaar en goedkeuring, en kan ’n sleutelrol speel om produsente te help om aan die nuwe vereistes van R707 te voldoen.
Om te verseker dat produsente ten volle aan die vereistes van die standaarde kan voldoen, sal die Departement van Landbou versoek word om ’n infaseringsperiode toe te laat. Gedurende hierdie tydperk sal leiding aan produsente verskaf word oor praktiese maniere om aan die vereistes te voldoen, ongeag die omvang van hul boerdery. Bykomende ondersteuning sal ook gebied word rondom die proses van self-evaluering, wat dien as voorbereiding vir die uiteindelike ouditproses.
