Skip to content
Unknown

Sjina Besoek – November 2023

Dit was ’n uiterste suksesvolle besoek en dit was oor en oor die moeite werd vir SAPPA om Sjina eerstehands te ondervind. Die mark in Sjina is bestendig met geleenthede vir uitbreiding. Daar word tans baie geïnvesteer in oprigting en opgradering van neutfabrieke. Suid-Afrikaanse pekanneute het ’n uitstekende naam en ‘n blink toekoms.

1) Sjina in ’n neutedop

SAPPA het Sjina besoek in November 2023. Tydens die besoek het ons “Traders”, Indop en Kern Rooster Fabrieke, Kleinhandel, Uitvoerders, Produsente en Industrie Organisasies gesien, dus kon ons ’n oorsig kry oor die hele waardeketting van neute in Sjina.

Ons was baie vriendelik ontvang reg deur die hele besoek. Ons Suid-Afrikaners kan iets leer uit die gasvryheid van die Sjinese kultuur.

Oral waar ons gekom het was almal bewus van pekanneute van Suid Afrika. Ons verwerkers het hier baie goeie werk gedoen om bewusmaking te skep.

Meeste Sjinese wat ons teegekom het sal nie maklik Suid-Afrika besoek nie, weens veiligheidsredes. Dis die beeld wat hulle deur Suid-Afrika se media ontvang.

Tans groei die Sjinese ekonomie nie teen dubbelsyfers nie en alhoewel hulle self sê hul ekonomie is onderdruk was dit duidelik dat dit anders is as ’n onderdrukte ekonomie waaraan ons gewoond is in Suid-Afrika. Ons het in beide stede en hul plattelandse areas beweeg en oral het jy net nuwe voertuie, nuwe pad infrastruktuur, nuwe geboue en heelwat nuwe konstruksie gesien.

Daar word tans ‘n enorme hoeveelheid geld gespandeer aan nuwe fabrieke en opgraderings van neut verwerkingsfabrieke in Sjina. Dit is verblydend om te sien dat die neutbedryf in geheel groei en dat daar nog geïnvesteer word.

2) Waar ons beweeg het:

Screenshot 2024 02 05 At 12.38.43

3) Pekanneute wat tans in Sjina gegroei word:

Ons kon nie presies bevestig hoeveel pekanneute geplant is in Sjina nie, dit wil egter voorkom of dit 60 000 – 80 000 hektaar kan wees. Van die bome wat geplant is, is ± 80% Pawnee en ‘n groot persentasie van die oorblywende pekanneute is Wichita. Die inligting was moeilik om te bevestig en verskil van provinsie, maar dit wil voorkom of hulle nie meer pekanneut bome mag plant in tipiese hoë digtheid boord formaat van bv. 8 x 10m nie. Hulle mag wel bome plant as dit wyer uitmekaar gespasieer word, dus moet daar plek wees om kontant gewasse te produseer. Volgens verskeie fabrieke is die produsente minder opgewonde oor die groei van pekanneute, weens die bome so lank neem om neute te produseer.

In kort tans lyk dit of die hektare nie groter sal word nie en daar bestaan ’n kans dat die hektare sal krimp. Areas waar die neute geplant is ontvang reën van 1000mm – 1300mm per jaar. Meeste van die bome is op enige saad geënt en nie op ’n spesifieke kultivar nie. Die bome is nog jonk en drag per hektaar is nog onbekend. Ons het van die Pawnee neute gesien en die neute was “Large” tot “Oversize” en relatief goed gevul. Hulle het genoem die SKR (Sound Kernel Recovery) is rondom 50% – 57%. Huidiglik is die produksie laag en is die land se totale produksie in die omtrek van ± 3 000 ton en verwag hulle dat die tonne sal toeneem in die 2024 oesjaar.

4) Die verbruik van neute in Sjina:

Indop gegeurde pekanneute word steeds die meeste verbruik, maar die gegeurde kern mark is egter besig om vinnig te ontwikkel veral in die ooste van die land. Van die kleinhandelaars en ook van die fabrieke spandeer tans heelwat op produkontwikkeling, wat beteken dat die verbruik moontlik kan toeneem. Die navorsing en markontwikkeling het reeds gely tot nuwe produkte soos o.a. fyn pekan stukkies wat op melktee bedien word. Sekere fabrieke is reeds in die uitvoermark betrokke en skep tans nuwe markte vir gegeurde Indop en kern pekanneute.

Oral is neute te koop en is dit duidelik dat alle neut variante deel vorm van daaglikse eet gewoontes. Die regering promoveer 25-35 gram neute per dag vir die verbruikers. Weens die afname in prys van makadamias is daar baie druk op duurder neute soos pekanneute. Vir elke houer pekanneute kan hulle twee houers makadamias koop. Dit het ’n effek op die hoeveelheid pekanneute wat ingesluit word in pakkies gemengde neute wat reeds drasties afgeneem het. Makadamias se prys het begin styg en dus skep dit ’n beter vooruitsig vir pekanneute.

5) Hoe sien die mark Suid-Afrikaanse pekanneute:

Indien die kwaliteit en prys dieselfde is, verkies hulle Suid-Afrika se neute bo Mexiko en VSA a.g.v. die smaak van die Suid-Afrikaanse neute. Dit gesê verwys hulle ook na die kwaliteit van produk uit Suid-Afrika, wat oor die laaste twee jaar afgeneem het. Gradering tellings van neute was op die onderste grens en nie in die middel van die band nie. Laer kern persentasies was ontvang die laaste jaar. Neute wat ontvang was, was baie gemeng en nie enkel kultivar nie, wat hulle prosessering moeilik maak.

Hulle het ook gekla oor neute wat in 2022 ontvang was wat reeds galsterig en olierig was op die dop toe dit by die hawe aangekom het. Hulle praat met lof oor van die verwerkers, daar is egter ander verwerkers by wie hulle substandaard produk ontvang het wat hulle produksie belemmer, kwaliteit beïnvloed en uiteindelik geld gekos het.

Ek hamer nou op die probleme, want dit is binne Suid-Afrika se beheer en as ons die mark wil beskerm moet ons drasties aandag gee aan hierdie probleme.

Die mark verkies ‘n konstante prys. Teen ’n konstante prys maak almal geld en kan die mark uitgebrei word met beperkte risiko. Indien pryse begin daal gedurende ’n seisoen, sit die koper met duur voorraad  in sy stoor wat druk plaas op marge. Dit veroorsaak dat ander neute ondersteun word om risiko’s te beperk.

Verder is die Sjinese fabrieke baie opgewonde oor die kapitaal wat bestee word aan x-straal masjiene in Suid-Afrika wat direk ’n effek gaan hê op die kwaliteit.

Die meeste van die fabrieke in Sjina het egter steeds “sizing” en x-straal masjiene om seker te maak die neute voldoen aan hulle standaard voor hulle dit verwerk.

Neem in ag die Indop neute word op die lang sy gekraak voor dit gegeur word. Indien neute nie eenvormig is nie, kraak die dop nie noodwendig nie en kan die kern nie gegeur word nie.

Ons het ook geleer dat daar ’n mark is vir laer kwaliteit neute en dit ding nie direk mee met die top kwaliteit nie.

Kopers het dit ook duidelik gemaak dat prys deur die suiwerheid van die kultivar bepaal word, daarom om pryse te maksimeer moet ons enkel kultivar oes.

6) Hoekom was die vraag na groot neute veral Choctaw die laaste twee jaar onder druk:

Baie neute wat in 2022 ontvang was, was gemengde kultivars, galsterig, olierige en groot % swak gevulde neute. Een van die grootste aankopers van Choctaw het baie kliënte klagtes ontvang oor die kwaliteit en het daarom besluit om verder geen Choctaws te koop nie. In 2023 het hy oorgeskuif na Wichita en Desirables hy is egter van mening dat Choctaw steeds ’n uitstekende neut is, indien die kwaliteit gewaarborg kan word. Die rolspeler is ’n baie groot speler en indien hy weer Choctaws aankoop, sal dit nie net die vraag na Choctaws lig nie, maar ook die van ander groter neute, wat pryse op die kleiner neute kan stabiliseer. Dus is daar baie hoop vir Suid-Afrika indien ons dit net reg bestuur.

Meeste fabrieke het bevestig dat hulle steeds die groter neute koop. Dit gaan egter baie oor die gradering en enkel kultivar. Hulle masjiene is aanpasbaar en kan die groter neute verwerk.

7) Wat beteken dit vir jou as produsent:

Jy het beheer oor jou neute se kwaliteit tot en met dit geoes word, daarna gaan dit na ’n verwerker of altans jou waarde toevoegings vennoot.

As produsent moet ons sover moontlik slegs een kultivar oes op ‘n slag.

Ons moet verstaan dat lae kern, lae kwaliteit neute of gemengde kultivars minder waarde sal hê.

Ons moet besef dat swak kwaliteit (veral galsterigheid) by die eindverbruiker nie alleen voor die deur van die verwerkers gelê kan word nie. Rakleeftyd begin by die produsent. Neute behoort so vinnig as moontlik ge-oes en gedroog te word, waarna dit goed gestoor moet word (droog en koel). Hierna behoort dit so spoedig moontlik aan jou verwerker gelewer te word.

Gesels met jou verwerker en maak seker hulle verstaan hoe belangrik kwaliteit vir die Sjinese mark is en stel jouself gerus dat hulle dit hoog op prioriteit stel. Sodoende kan ons die premie mark ondersteun met kwaliteit produk soos verwag deur kopers.

Maak seker dat:

  • Neute met sorg gehanteer word. Die neute is vir menslike gebruik, maak seker dat dit nie vir maande in die son en reën staan nie.
  • Galsterige produk nie uitgestuur word nie.
  • ”Sizing” goed gedoen word om in lyn te val met kopers en fabrieke se verwagtinge.
  • Defekte verwyder word om in lyn te val met kopers en fabrieke se verwagtinge. (Suid-Afrikaanse verwerkers belê tans in x-straal masjiene vir hierdie doel).

8) Bemarkingskou Sjina  – April 2024

SAPPA neem ‘n groot eerste stap om ons industrie te bevorder in Sjina, deur uitstal spasie te koop by: “The 17th Food Exhibition for China Nuts and Dried Fruits & Fair for Purchase and Supply” skou in Hefei April 2024.

Die spasie is teen geen koste aangebied aan die verwerkers (vlugte en verblyf vir hulle eie koste) en sewe verwerkers het hand opgesteek om gebruik te maak van die geleentheid saam met SAPPA. Daar gaan dus agt stalletjies wees om pekanneute van Suid Afrika te bemark aan die Sjinese mark.

Die idee van die skou is om ’n platform te skep vir Suid-Afrikaanse verwerkers om verhoudings met rolspelers te bou en te versterk, om verder die Sjinese mark te dryf asook om nuwe geleenthede te ontgin.

Back To Top