A restricted agricultural remedy means an agricultural remedy for which the registrar, out of concern…
Terugvoer oor die afgelope “International Nut and Dried Fruit Congress (INC)” in Vancouver, Kanada. (8 – 10 Mei 2024)
Deur Albert Bouwmeester (Ondervoorsitter van SAPPA)
Ek was bevoorreg om namens SAPPA die INC kongres by te woon, asook was die geleentheid daar om tesame met vier ander lande (VSA; Meksiko: Sjina en Frankryk) in ‘n paneelbespreking deel te neem. Die INC neem jaarliks aan die meeste groot voedselskoue in die wêreld deel. Hulle promoveer hierdeur volhoubare groei van neute en droë vrugte wêreldwyd om so verbruik te bevorder.
Een keer ‘n jaar reël die INC sy eie kongres wat hul vlagskip is. Hier verwag ‘n mens meer as 1300 professionele mense vanuit alle oorde, wat besighede, handelaars, organisasies, navorsers, ens. insluit. Hier word die geleentheid gebied om eerstehands te leer van wat in die verskillende bedrywe, markte ens aangaan, asook netwerkgeleenthede en om besigheid te doen met top besigheidslui van 65 lande.
Tydens hierdie kongres was daar oor die 60 sprekers wat individueel of in paneelbesprekings hul insigte, huidige produksieinligting, marktendense, oesvooruitskattings, ens gegee het.
Wat opmerksaam was is dat alle produserende lande met baie dieselfde probleme of uitdagings sukkel as ons hier in Suid-Afrika.
- Hoë insetkostes waaronder arbeidskostes, brandstof en bemesting wat bo-aan staan.
- Uiterste of vreemde weersomstandighede
- Hoë inflasie en rentekoerse.
- Daarmee saam is die lae pryse vir pekanneute die afgelope paar jaar nie van veel hulp nie. As ons na pekanneute spesifiek kyk is die realiteit dat in byvoorbeeld Amerika en Meksiko geen nuwe aanplantings meer plaasvind nie. Veral klein en medium boere is onder druk. Baie boorde is te koop of word net verwaarloos.
Positiewe terugvoer rakende pekanneute:
- Op hierdie stadium is daar eintlik geen oordragvoorraad op pekanneute in die wêreld nie. En dit is baie goeie nuus! Die afgelope jare was die oordragvoorraad hoog wat ‘n direkte impak op die markprys het.
- Verder verwag die grootste produserende lande, Amerika en Meksiko, nie ‘n groter oesjaar vir 2024/25 nie.
- Die meeste produserende lande spandeer baie tyd en geld op bemarking en produk ontwikkeling. Veral die werk wat die American Pecan Council (APC) die afgelope ses jaar doen in hierdie verband is fenomenaal! Hul binnelandse markontwikkeling is ‘n voorbeeld hiervan. Verder word ander nuwe potensiële markte geteiken, een hiervan is Indië. Alhoewel dit nog baie werk gaan kos het Indië die potensiaal om die pekanneutbedryf se mark te vergroot.
Wat maak die Indiese mark spesiaal?
Indië is ‘n opkomende mark vir neutverbruik om verskeie redes:
- Bevolkingsgrootte en -groei: Indië het een van die grootste bevolkings wêreldwyd, met meer as 1.4 miljard mense. Met so ‘n groot verbruikersbasis kan selfs ‘n klein toename in per capita verbruik lei tot aansienlike markgroei.
- Veranderende Dieetvoorkeure: Daar is ‘n groeiende neiging na gesonder eetgewoontes in Indië, aangedryf deur toenemende bewusmaking veldtogte. Neute word beskou as ‘n voedsame en gesonde opsie vir ‘n vinnige versnappering, ryk aan proteïene, gesonde vetstowwe, vitamiene, en minerale.
- Vegetariese Bevolking: Ongeveer 40% van die Indiese bevolking is vegetaries. Neute dien as ‘n belangrike bron van proteïene en ander voedingstowwe vir vegetariese mense.
- Ekonomiese Groei: Die Indiese ekonomie bly sterk groei, wat lei tot stygende inkomstes en ‘n groeiende middelklas. Namate mense se koopkrag toeneem, is hulle meer geneig om te belê in luukse en gesonder voedsel opsies, insluitende neute.
- Markontwikkeling: Terwyl ander neutsoorte soos amandels, okkerneute, en pistasieneute reeds gevestig is en jaar op jaar baie sterk groei toon, is daar steeds ruimte vir groei, veral vir pekanneute wat feitlik nog onbekend is.
- Invoertariewe: Invoer tariewe vir Indië is omtrent ‘n jaar terug vanaf 100% na 30% verlaag. Deur hierdie verlaging, wat gedryf is deur die VSA, is daar skielik weer ‘n groot potensiële mark
Konklusie en vooruitsig:
Alhoewel die pekanneutbedryf tans onder druk verkeer, hoofsaaklik ten opsigte van huidige insetkostes, is ons steeds baie beter af as die meeste ander neutsoorte. Met geen huidige oordragvoorraad beskikbaar, en geen noemenswaardige groei in produksie van VSA en Meksiko in die komende seisoen nie, behoort pryse stabiel te bly.
My persoonlike uitkyk vir die toekoms van die pekanneutbedryf is positief. Met geen of min nuwe aanplantings wereldwyd glo ek dat Suid-Afrika steeds ‘n blink toekoms het wat die verbouing van pekanneute betref.
- Ons het steeds genoeg goeie grond met water in ideale klimaatstreke beskikbaar.
- Ons het goeie kultivars wat populêr en in aanvraag is.
- Ons is steeds goedkoper op insetkostes.
- Sjina is tans ons primêre mark, op die langer duur sal ons aandag moet skenk aan diversifisering van ons markte.
- Soos ons produksie toeneem sal pekankern ook ‘n al groter plek begin inneem.
- Ontwikkeling van markte soos Indië lyk belowend en het baie geleenthede. Dit sal wel hoofsaaklik ‘n kernmark wees.
Met hierdie uitkyk vir die toekoms sien ek uitbreiding in nuwe aanplantings as positief. Dit gesê moet ons egter bewus wees van die veranderlike landskap van die bedryf – markte raak meer gespesialiseerd, kopers se voorkeure verander, en daar is ‘n toenemende fokus op kwaliteit. Met insetkostes, wat voorlopig hoog sal bly, is dit belangrik om as produsent, seker te maak dat aanplantings in optimale grond en klimaat streke geplant word, wat maksimum opbrengs en kwaliteit sal oplewer. Hierin speel SAPPA ook ‘n belangrike rol om relevante inligting te bekom en te versprei om sodoende die Suid-Afrikaanse industrie optimaal te help ontwikkel