13 Julie 2026 Saamgestel deur Kobus Hartmann Opsomming -Gebruik van plantgroeireguleerders, wat natuurlike fito-hormone en…

Terugvoer op Markontwikkeling Voorstel van Stoffel van Zyl
Op 4 Desember het SAPPA se Markontwikkelingskomitee die geleentheid gehad om na Stoffel van Zyl se voorstel oor markontwikkeling te luister, soos dit tydens die Algemene Jaarvergadering in November bekendgestel was.
Die dokument wat vooraf gedeel was, het insigte gebied oor die verdere benutting van die bestaande Chinese mark. Die inhoud is saamgestel op grond van inligting beskikbaar in die openbare domain, ander beskikbare navorsing en Stoffel se besoek aan China. KI (Kunsmatige Intelligensie) is as hulpmiddel gebruik om inligting te versamel en te moduleer. Hierdie werk het ’n belangrike bydrae gelewer tot die gesprek oor hoe die bedryf moontlik sy posisie kan versterk. Die dokument het nie voorsiening gemaak vir die identifisering of ontwikkeling van alternatiewe of aanvullende markte nie, maar slegs gefokus op mark penetrasie.
Die voorlegging het verskeie scenario’s en teoretiese beginsels uitgelig wat kan help om te verstaan hoe pryse en markdinamika moontlik bestuur kan word. Soos met enige simulasie, is daar altyd aannames wat in die praktyk op verskillende maniere deur die mark geïnterpreteer kan word. Die voorgestelde benadering is nie iets wat deur SAPPA geïnisieer of gedryf kan word nie. Die beginsels wat voorgestel word, is nie uniek tot ’n bedryfsorganisasie nie en val binne die normale bedryfsruimte van individuele verwerkers en uitvoerders. SAPPA word ingevolge die Mededingingswet verhinder om enige enkele maatskappy of inisiatief voorkeurbehandeling of spesifieke ondersteuning te gee en raai daarom lede aan om hulle eie gevolgtrekkings te maak.
SAPPA gee erkenning aan Stoffel en sy seun, Waldo, vir die tyd en moeite wat hulle aan die navorsing en voorlegging bestee het. Sulke bydraes help om nuwe idees en perspektiewe na die tafel te bring, wat die bedryf as geheel kan verryk.
Terwyl SAPPA ingevolge sy mandaat en die Mededingingswet nie self ’n rol kan speel in die implementering van die voorgestelde konsep nie, bly die organisasie toegewyd om ’n platform te bied waar produsente en verwerkers saam kan dink oor praktiese en volhoubare oplossings. Die komitee is dit eens dat die ontwikkeling van aanvullende markte, benewens China se in-dop mark, ’n prioriteit is om die langtermyn-volhoubaarheid van die bedryf te verseker.
SAPPA bly oop vir goeie voorstelle wat die potensiaal het om die bedryf vorentoe te neem. Ons waardeer die samewerking van alle rolspelers en glo dat konstruktiewe gesprekke en gedeelde idees die sleutel is tot ’n sterker en meer volhoubare pekanneutbedryf.
