Skip to content
Img 20250507 Wa0023

Dekgewasse bring nuwe lewe vir pekanboorde op Patrysvlei

Op die plaas Patrysvlei  buite Petrusburg, boer Heinrich Weideman en sy skoonseun, Dirkie Calitz, met ’n passie vir pekanneute én vir volhoubare landbou. Hulle bestuur saam ’n diverse pekanboerdery met bome van verskillende ouderdomme – van ’n gevestigde 32 hektaar-blok wat reeds 25 jaar oud is, tot ’n jonger 100 hektaar-aanplanting van sewe jaar.

Twee jaar gelede het die pa-en-skoonseunspan besluit om dekgewasse op 62 hektaar van hul boorde te begin vestig. Die besluit het nie sommer uit nuuskierigheid ontstaan nie, maar uit ’n werklike behoefte: swak waterinfiltrasietempos en grond wat moeilik onder in die profiel nat geword het. Boonop wou hulle die algemene grondgesondheid verbeter.

Hulle het spesifiek gekies vir dekgewas-spesies wat immergroen is om mikrobiese lewe en grondaktiwiteit deurentyd so hoog as moontlik te hou. Die mengsel bestaan uit twee miniatuur swenkgasse – Defiance en Creeping Red Fescue – asook ’n miniatuur klawer, bekend as Palestinian Strawberry Clover. Hierdie spesies is gekies juis vir hul lae groei, aanpasbaarheid en vermoë om grondlewe aktief te hou deur seisoensveranderinge heen.

Hoewel die primêre doelwit verbetering van grondgesondheid was, voorsien Dirkie dat hierdie praktyk op die lang termyn ook die behoefte aan kunsmis sal verminder – en dus ook koste.

Meetbare voordele

Die voordele van dekgewasse is reeds sigbaar in Patrysvlei se boorde:

  • Waterinfiltrasietempos het dramaties verbeter.
  • Daar is geen afloop van water in die boord nie.
  • Die deklaag van die gewasse help om temperature in die boord te reguleer – koeler in die warm somermaande en effens warmer in die winter.
  • Alhoewel daar meer gereeld water gegee word, word daar nie méér water gebruik nie.
  • In totaal het die seisoenale water- en kunsmisverbruik nie toegeneem nie – in teendeel, kunsmisbehoeftes het reeds begin daal.
  • Grondontledings toon duidelik ‘n toename in grondorganiese materiaal, aktiewe koolstof en organiese koolstof – alles aanduidings van verbeterde grondbiologie.

In kort, hierdie verhoogde koolstofinhoud en organiese materiaal hou talle voordele in: verbeterde vashouvermoë, sterker mikrobiese aktiwiteit, beter beskikbaarheid van voedingstowwe, en verhoogde infiltrasietempos.

Tegniese uitdagings

Soos met enige nuwe praktyk, bring dekgewasse ook sy uitdagings. Die sny van dekgewasse vereis spesifieke toerusting en die regte tegnieke. Geen materiaal word tydens die sny verwyder nie, wat help om organiese materiaal in die boord te behou. Die snykoste self is egter ’n bykomende uitgawe, en die toerusting kan duur wees.

Daar is ook lesse geleer wat betref die vestiging van die gewasse. In een geval is die grasse te laat geplant – einde Oktober tot November – en ’n hittegolf en storm het die vestiging bemoeilik. Volgens Dirkie is die ideaal om dekgewasse reeds teen einde Julie of Augustus te vestig, wanneer toestande koeler en meer gunstig is.

Volhoubare groei vorentoe

Die ervaring van Heinrich en Dirkie op Patrysvlei wys duidelik dat dekgewasse nie net ’n modegier is nie, maar ’n praktiese hulpmiddel om grondgesondheid, watergebruik en produksiekoste op lang termyn positief te beïnvloed. Al bring dit sekere uitdagings en aanpassings mee, is die opbrengs – in die vorm van lewendige grond, beter boomgroei en potensiële koste besparings – meer as die moeite werd. Dekgewasse vorm vir hulle ’n sleutel in die pad na ’n meer volhoubare pekanboerdery.

Back To Top