Skip to content
Images

Mark implikasies met die gebruik van groeireguleerders

13 Julie 2026

Saamgestel deur Kobus Hartmann

Opsomming

-Gebruik van plantgroeireguleerders, wat natuurlike fito-hormone en sintetiese produkte insluit, is ’n gevestigde praktyk in landbou.

-Vyf hoofhormone is van belang: ouksiene, gibberelliene, sitokiniene, absissiensuur en etileen.

-Sintetiese middels soos paclobutrazol (PBZ), chlormequat en uniconazole beïnvloed plantmorfologie en -groei.

-Verskillende toepassings in gewasse: graan – halmverkorting, sitrus en appels – vegetatiewe beperking, druiwe – korreluitdunning, kleurverbetering.

-Werksmeganisme: meer as die helfte van groeireguleerders inhibeer gibberelliensuur (GA), wat selverlenging beheer.

-PBZ in pekanneute word gebruik om aggressiewe groei te beperk; is effektief sonder voorkoms van residue in die neutkern indien korrek toegedien word.

-Regulering: in SA wettig en geregistreer; in die VSA verbied deur die EPA (Environmental -Protection Agency) weens omgewings- en residu-oorwegings.

-Uitvoerrisiko: nul-residuvereiste in die VSA; ‘n LOQ-vlak (0.01 dpm) in die EU en China stel ’n baie lae toleransies om aan te voldoen. (LOQ: Level of quantification)

-Marktoegang: residue of kopersentiment kan uitvoere beperk en die reputasie van die bedryf benadeel.

Agtergrond tot plantgroeireguleerders

Groeireguleerders kan in twee groepe verdeel word: natuurlik geproduseerde groeireguleerders, algemeen bekend as fito-hormone (planthormone), en sinteties geproduseerde produkte.

Die eerste groep plantgroeireguleerders, die fito-hormone, is ‘n groep verbindings wat plante self tydens hul metaboliese prosesse en na gelang van behoefte produseer.

Die tweede groep plantgroeireguleerders, sinteties geproduseerde produkte, is verbindings wat die natuurlike plantgroeihormone naboots en sodoende die produksie en uitdrukking van die fito-hormone beïnvloed. Sintetiese plantgroeireguleerders soos paclobutrazol, chlormequat-chloride en prohexadione-calcium is enkele voorbeelde van sintetiese plantgroeireguleerders wat die natuurlike fito-hormone manipuleer en die groei wyse van plante beïnvloed.

Daar is vyf belangrike planthormone bekend: ouksiene, gibberelliene, sitokiniene, absissiensuur en die enigste vlugtige fito-hormoon, etileen.

Paclobutrazol (PBZ) is ’n sinteties geproduseerde groeireguleerder wat plantgroei beperk en wat dwarsoor die wêreld in gewasproduksie en ondermeer ook in Suid-Afrika op pekanneute gebruik word. Nie alle plantspesies reageer dieselfde op die toediening van PBZ nie en selfs binne spesies is daar ook kultivarveskille. Dit is reeds wyd gerapporteer dat PBZ die biosintese van gibberelliensuur (hoofsaaklik GA₃) onderdruk. Die onderdrukking van gibberelliensuur sal op sy beurt weer die biosintese van sitokiniene en ook absissiensuur (ABA) stimuleer en die reaksie van die plant op hierdie twee hormone beheer.

Gebruik van groeireguleerders in ander gewasse

  • In graangewasse is die gebruik van groeireguleerders belangrik vir die inkorting van die halms om die omval van die plante voor oes te beperk (chlormequat – CCC).
  • In sitrus en veral by aggressiewe groeiers soos suurlemoene word dit gebruik om die vegetatiewe groei te beperk en sodoende vrugbaarheid te verbeter (uniconazole).
  • In die geval van appels word groeiregulering vir dieselfde doel gebruik, onder meer om vegetatiewe groei ten bate van reproduktiewe groei te beperk (prohexadione-calsium, Regalis).
  • In die geval van druiwe is die gebruik van gibberelliensuur (korreluitdunning en korrelvergroting), sitokiniene (setbevordering) asook absissiensuur en etileen (kleurverbetering) goed gedokumenteer.

Biochemiese aard van groeihormone

Die middels wat vir groeibeperking in plante gebruik word, verskil in chemiese samestelling. Die dominante groep wat in vrugtegewasse gebruik word, deel dieselfde werksmeganismes deurdat hulle die vorming van gibberelliensuur (GA) inhibeer.

Anders as die ouksiene, wat hoofsaaklik in die blare en groeipunte geproduseer word en grootliks seldeling veroorsaak, word gibberelliene in die plantwortels vervaardig en is hierdie hormoon vir selverlenging verantwoordelik.

’n Gebrek aan gibberelliene gee aanleiding tot verkorte internodes en kleiner blare, maar verminder nie fotosintese nie.

Meer as die helfte van die gibberelliensuur-inhibeerders behoort aan ’n groep chemie wat bekend staan as triazole.

Die triazole is ’n groot groep middels wat wyd in plaagbeheer vir die beheer van ’n verskeidenheid swamsiektes gebruik word.

Meer oor paclobutrazol

Paclobutrazol (PBZ) is ’n groei-inhibeerder met langdurige effekte in plante. Daar is velerlei fisiologiese en morfologiese veranderinge wat plaasvind wanneer plante met PBZ behandel word. Absissiensuur (ABA) word verhoog deur PBZ en veroorsaak ’n dikker kutikula van die blare, meer kompakte palisade-selle (sellaag waarin die chloroplaste gehuisves word), verminderde vogverlies, verhoogde stikstof- en ander voedingstofmetabolisme, en maak die plante meer bestand teen hitte, koue en brakskade.

PBZ stimuleer wortelgroei en -dikte teen lae konsentrasies.

PBZ en die pekanneutbedryf

Pekanneute wat op vrugbare grond groei, kan maklik te groot en dig word. PBZ word as ’n grondtoegediende manipulasie gebruik.

Baie werk is reeds onder Suid-Afrikaanse toestande gedoen om die effek van PBZ op pekanneute te ondersoek, asook om die regte tyd van toediening en die beste dosering te bepaal en die residustatus in die vrugte te ondersoek.

PBZ word grootliks deur die xileem (murg) van die plante opwaarts na die groeipunte vervoer, terwyl vrugte hoofsaaklik hulle metaboliete via die floeem (aktief groeiende gedeelte net onder die bas) vanaf die blare kry.

Werk wat deur SAPPA (SA Pecan Nut Producers Association) gedoen is, het getoon dat grondtoediening nie residue van PBZ in die neutkern veroorsaak nie, ten spyte daarvan dat residue vir ’n tyd na toediening nog in die grond opgespoor kon word.

Herhaalde jaarlikse toedienings teen kleiner dosisse het ook geen residue in die vrugte veroorsaak nie en het steeds ‘n groeiregulerende effek gehad.

Paclobutrazol is in Suid-Afrika vir die gebruik op pekanneutbome geregistreer en daar bestaan ’n toleransie/MRL waarde daarvoor.

Die gebruik van PBZ op neute is dus wettig en veilig in Suid-Afrika.

Die situasie is egter ietwat anders vir van die markte waarheen die Suid-Afrikaanse pekanneute uitgevoer word.

PBZ en beperkings op mark toegang

In die VSA word die gebruik van landboumiddels deur drie agentskappe Beheer.

Environmental Protection Agency (EPA)

  • Die EPA stel die veilige gebruiksnorme vir gewasbeskermingsprodukte in die VSA vas. Hierdie agentskap bepaal ’n veilige grenswaarde vir verbruikers, maar kyk ook na die effek van middels op die omgewing.
  • Die EPA se verbod op PBZ in die VSA is hoofsaaklik gegrond op omgewings- en residu-oorwegings. Dit is nie ’n toksisiteitsprobleem vir verbruikers nie, maar ’n regulatoriese besluit, gemik op omgewingsveiligheid.
  • Gegewe die feit dat PBZ baie sterk aan grondpartikels bind en lank hou, het die EPA besluit om nie die gebruik van PBZ in die VSA toe te laat nie.

FDA (Food and Drug Administration) en USDA (United States Department of Agriculture)

Die FDA is ’n federale agentskap van die VSA wat toesig hou oor die veiligheid van voedsel, medisyne, mediese toestelle, kosmetiese produkte en sekere ander verbruikersgoedere. Hulle rol is om te verseker dat produkte wat mense inneem of gebruik veilig, doeltreffend en behoorlik geëtiketteer is.

Die USDA is verantwoordelik vir die toepassing van die reëls en regulasies en standaarde deur inspeksies van die kommoditeite wat onder hulle beheer val.

  • Die USDA sal vrugmonsters by die aflaaipunte neem en vir ontleding aan laboratoriums voorlê.
  • Die FDA sal die resultaat beoordeel.
  • Nóg die FDA nóg die USDA sal vrae vra oor of PBZ gebruik is of nie. Hulle laat hulle bloot lei deur wetvoorskrifte en in die geval van PBZ op neute is dit nul-residue.

As daar GEEN residue van PBZ op neutkerne opgespoor kan word nie, kan die produk wettiglik in die VSA bemark en gerbruik word. Sou PBZ residue en of ENIGE ander residu van plaagbeheermiddels wat nie in die VSA geregistreer is nie opgetel word, sal dit tot die onmiddellike vernietiging van die besoedelde besending aanleiding gee. Dit sal ook veroorsaak dat toekomstige besendings aan strenger inspeksies onderwerp word om ’n herhaling van die probleem te voorkom.

Die skade aan die reputasie van ‘n hele bedryf as gevolg van so ’n afkeuring hou ernstige implikasies vir SA landbou in.

Invoertoleransies

Die VSA maak wel voorsiening vir die stel van ’n invoertoleransie. Dit beteken dat die staat van die uitvoerland die EPA kan nader om ’n veiligheidsvlak vir produkte wat nie in die VSA geregistreer is nie te ondersoek en vas te stel. Dit geld ook vir PBZ.

Dit is egter onwaarskynlik dat die EPA so ’n petisie gunstig sal oorweeg omdat hulle eie produsente daardeur benadeel sou word, maar ook omdat PBZ ’n langdurige residu in die grond laat wat toekomstige produksies kan affekteer al is dit in ‘n ander land.

Ander lande soos die EU en China is beide groot invoerders van SA-pekanneute. Hulle handhaaf grootliks dieselfde standpunt, maar met ‘n verskil. Die EU-lidlande en China het wel ’n verstek-toleransie van 0.01 dpm. Hierdie toleransie is egter baie laag en alle neute wat moontlik met PBZ besoedel is, moet voor versending getoets word om vas te stel of daar enige residue op bestaan. China het wel registrasies vir PBZ op ‘n verskeidenheid gewasse, maar nie vir pekanneute nie. Hulle sal intensief toets en residue moet onder die drempelwaarde van 0.01 dpm wees.

Ander beperkings op marktoegang

Regulatoriese beperkings is egter nie die enigste beperking wat uitvoere sal stop nie. Koperssentiment speel ‘n deurslaggewende rol in die aanvaarding van produkte wat selfs aan wetsvoorskrifte voldoen.

Kopers van ingevoerde produk kan steeds besluit of hulle produkte (in hierdie geval neute) wil koop wat met PBZ behandel is, ongeag die feit dat daar geen residue op voorkom nie.

Daar moet vooraf met kopers ooreengekom word of hulle “skoon” besendings van behandelde bome sal aanvaar.

Ter opsomming

  • Paclobutrazol (PBZ) is ’n groeireguleerder wat deur pekanneutprodusente gebruik word om lootgroei van jong en gevestigde bome te beheer en vroeër vrugset te bevorder.
  • Benewens groeiremming ondersteun PBZ die boomgesondheid en prestasie onder abiotiese strestoestande, en bied beperkte beskerming teen siektes deur morfologiese veranderinge in blare.
  • SAPPA-navorsing toon dat geen residue van PBZ tot dusver in neutkerne opgespoor is waar bome met grondtoedienings van PBZ behandel is nie.
  • PBZ is ’n uiters stagnante produk met ’n halfleeftyd in grond van maande tot jare, afhangend van grondtekstuur en organiese materiaalinhoud.
  • Grondtoediening is die mees effektiewe metode wat die gebruik van lae dosisse met maksimum effek moontlik maak. Die produk registrasie maak nie vir blaartoedienings voorsiening nie.
  • Reaksie op PBZ verskil tussen planttipes en kultivars van dieselfde spesie.
  • Die bemarkbaarheid van PBZ-behandelde neute hang af van nasionale regulatoriese vereistes én die marksentiment van die kopersland.
  • In die VSA sal enige residu van PBZ tot onmiddellike afkeuring en vernietiging van besendings lei. Selfs residuvrye neute moet vooraf deur kopers aanvaar word.
  • In die EU en China moet aanvaarbaarheid van neute met PBZ-vlakke onder 0.01 dpm vooraf met kopers bevestig word.
  • Daar is nie ‘n kortpad met hoërisiko-middels nie en een deurstamp in ‘n sensitiewe mark kan die toekoms van alle produsente vir lank nadelig beïnvloed.
Back To Top