Skip to content
Whatsapp Image 2025 09 08 At 16.42.09 6ee2088f

Remhoogte: Prieska se storie van volhoubare boerdery

Op Remhoogte, sowat 40 km buite Prieska langs die Oranjerivier, is pekanneute al lank deel van die plaas se storie. Die eerste bome is in 2003 geplant, en intussen is meer as 360 ha gevestig. Die oudste aanplantings (70 ha) is egter al in 1996 deur oom Charl de Villiers op Oranjelandgoed geplant. Vandag is Johan en Pierre de Villiers die eienaars, met Xander van Heerden wat sedert 2014 die pekanneute bestuur.

Hoe dit alles begin het

Volhoubare landbou het in 2019 regtig by Remhoogte posgevat toe Alex Bosman van Real IPM vir Xander en sy span aan John Kempf van die VSA voorgestel het. Dit het hulle sommer behoorlik aan die dink gesit. Ure se webinare en podcasts is gekyk en heelwat navorsing is gedoen – die belangstelling was groot.

Maar eintlik het die pad vroeër begin. Reeds in 2017 het hulle besluit om eerder skape in die boord in te bring vir onkruidbeheer, in plaas daarvan om net met chemiese middels te spuit. Dit het ’n paar jaar gevat, maar vandag groei daar weer gras en gewasse tussen die rye – iets wat voorheen deur jare se swaar chemiese programme heeltemal uitgewis is.

Sapmonsters, blaarontledings en slim regstellings

Ook in 2017 het hulle begin om sapmonsters te neem. Met verloop van tyd is daar ’n goeie verhouding met ’n plaaslike maatskappy opgebou wat die bome en graangewasse monitor en regstellings aanbeveel. Hierdie regstellings word hoofsaaklik met blaarbespuitings gedoen.

Xander verduidelik:
“ Sapmonsters wys jou baie gou waar ’n tekort lê – nog lank voor jy dit met die oog kan sien. Só kan jy probleme voorkom en die negatiewe impak beperk.”

Hy waarsku ook teen die gebruik van standaard chemiese programme wat aan die begin van die seisoen uitgereik word:
“Dis duur en dikwels onnodig. Jy spandeer geld op produkte wat die plant dalk reeds genoeg van het. Dis ’n vermorsing.”

Remhoogte neem omtrent elke tweede week sapmonsters, aangesien hulle so gereeld spuit. Sink (Zn) word as veral belangrik uitgelig, veral op nuwe groei.

Snoeihout, mikrobes en ’n chipper

’n Groot verandering het gekom met die aankoop van ’n chipper. Nou bly al die snoeihout in die boord. Dit word gekap en help die grond op verskeie maniere: dit hou water langer vas, verlaag die grondtemperatuur, bevorder ’n gesonde verhouding tussen fungi en bakterieë, en gee sigbare hupstoot aan mikrobes.

Soos Xander dit stel:
“Chemie maak mikrobes lui. Ons probeer hulle eerder aan die werk kry en soveel moontlik wegbeweeg van soutkunsmis soos kaliumchloried.”

Grondlewe en C:N verhoudings

Met die hulp van Glen Rabenberg se webinars het hulle ook meer begin fokus op koolstof en die belang van die C:N-verhouding. Mikrobes kan eenvoudig nie goed werk as die balans te laag is nie. Daarom doen hulle gereeld grondontledings – dit kos nie veel nie, maar gee ’n rykdom van inligting oor wat in jou grond aangaan.

“Boere moet koolstof in die grond bou,” sê Xander, “sodat mikrobes die werk kan doen en jy minder afhanklik is van chemiese kunsmis.”

Cover crops en die Rhizophagy cycle

Dit bly ’n uitdaging om cover crops onder pekanneute te vestig waar net drupbesproeiing is. Tog is dit die beste manier om mikrobes te voed – met die “root exudates” wat plante in die wortelsone vrystel. Dr. James White se werk oor die Rhizophagy cycle wys ook mooi hoe voedingstowwe deur mikrobes vir die plant beskikbaar gemaak word.

Biologie bo chemie

Sedert 2021 gebruik Remhoogte ook ’n “soil fall primer” om humifikasie te bevorder en NPK beskikbaarheid te verbeter. Hierdie praktyk val binne vlak 3 en 4 van John Kempf se “plant health pyramid”, waar die fokus is op biologie en die plant se eie immuunstelsel.

Die belangrikste beginsel bly egter eenvoudig: ’n Plant neem organies gecheleerde spuitmengsels vinniger en meer doeltreffend op – binne minute eerder as dae. Daarom doen hulle altyd ’n “jar test” om versoenbaarheid van produkte te toets.

Geen silwer koeël nie, net volhoubare stappe

Xander vertel dat hulle weer opgewonde geraak het oor boerdery deur die kennis wat hulle via webinare en podcasts kon kry – dit het gevoel soos ’n sepie waarvan jy nie die volgende episode kan afwag nie!

Maar hy beklemtoon ook:
“Dis nie ’n oornagproses nie. Jy leer elke dag iets nuuts en elke jaar is anders. Ons het ook goed probeer wat nie gewerk het nie. Daar is nie ’n silwer koeël of een handboek wat vir almal gaan pas nie.”

Met kunsmis- en chemikaliepryse wat aanhou styg, glo Remhoogte dat boere eenvoudig sal móét leer hoe om regeneratief te boer: dieselfde opbrengste, maar met minder insette.

Want aan die einde van die dag, sê Xander:
“Wins per hektaar is belangriker as net die hoogste opbrengs. Jy kan groot oeste kry, maar as jou insette jou wins opvreet, is dit nie volhoubaar nie.”

Slotgedagte

Xander se raad is eenvoudig maar kragtig:
“Neem grondmonsters, neem blaarmonsters, neem sapmonsters. Want om te meet, is om te weet. En as jy nie meet nie, kan jy nie weet nie.”

Whatsapp Image 2025 09 08 At 16.42.01 5366060d Whatsapp Image 2025 09 08 At 16.43.59 D93469bc Whatsapp Image 2025 09 08 At 16.43.44 B152d062 Whatsapp Image 2025 09 08 At 16.42.11 D34060ab

Back To Top