13 Julie 2026 Saamgestel deur Kobus Hartmann Opsomming -Gebruik van plantgroeireguleerders, wat natuurlike fito-hormone en…

Terugvoer oor die “17 th Food Exhibition for China Nuts and Dried Fruits Fair for Purchase and Supply”
Deur: Alfons Visser en Werner Erasmus (markontwikkelingskomiteelede).
Ons was bevoorreg om deel te wees van ‘n kollektiewe bemarkingspoging in Sjina om Pekanneute en meer belangrik, Suid-Afrikaanse Pekanneute te bevorder. Die aksie is onder SAPPA se nuwe handelsmerk Pecans from South Africa aangevoer.
Eerstens wil ons vir SAPPA Bestuur gelukwens met die inisiatief wat hulle geneem het om die staanplek te bespreek en aan te bied vir ses verwerkers (Bester Fruit & Nuts, Gariep Pecans, SA Pecans, Empire Pekans, Vaalharts Pecan Marketing en Pekanhoek) en SAPPA self. Die Suid-Afrikaanse pekanneutbedryf kan trots wees op al die ambassadeurs wat daar was vir elke pekanneutprodusent.
Ons dink dat ons ‘n groot slag geslaan het vir Suid-Afrikaanse pekanneute, aangesien die kollektiewe benadering, met uitstekende stalletjies, bemarkingsmateriaal en inligting gedeel was. Dit het baie beter slaankrag gehad as wat individuele stalletjies sou hê.
Die skou het oor die drie dae ‘n besoekersgetal van 150 000 aangetrek, met 2000 uitstallers wat aanwesig was. Die skou het gefokus op alle Neute, Sade, Droeë Vrugte, Toerusting en Verpakkingsmateriaal. Wat vir ons uitgestaan het tydens die geleentheid was die afwesigheid van ons opposisie lande wat hul pekanneutbedryf verteenwoordig; soos VSA en Mexico pecans.
Plaaslike Sjina verwerkers was wel teenwoordig met hul plaaslike Pawnee verwerkte neute wat hulle bekend gestel het aan besoekers. Al die verwerkte boomneute produk verskaffers was ook teenwoordig, wat boomneute in verskillende verwerkte vorms aan die eindverbruiker verskaf. Hiervan vorm indop geuring steeds ‘n groot deel van die aanbieding. In die gemengde boomneut produkte kan duidelik gesien word dat pekans ’n klein persentasie van die neute uitmaak en in meeste gevalle was pekanneute nie deel van die gemengde boomneute nie. Hierdie is as gevolg van pekanneute se kern prys ($/kg) wat in die meeste gevalle dubbel so hoog is as dié van ander neute soos amandels, makadamias, ensovoorts
Dit was duidelik by die konferensie dat pekanneute maar ‘n druppel in die totale neut aanbod is. Dit het sy voor- en nadele natuurlik. Die voordeel is dat pekans ‘n nis produk bly en dus ‘n hoër prys behaal. Die nadeel is egter dat indien pekanneute te duur word, die vraag verminder en uiteindelik die prys. Almal het seker al van pryselastisiteit gehoor. In ‘n neutedop; hoe hoër die prys, hoe minder die verbruik en hoe laer die prys, hoe groter die verbruik.
Die meerderheid van besoekers was uitgesproke ten opsigte van die kwaliteit, smaak en betroubaarheid van die meerderheid van Suid-Afrika se verwerkers.
Met die toename van aanbod in enige mark, neem die koper se kwaliteit vereistes ook toe, omdat hy ‘n wyer verskeidenheid aanbiedings, uit verskeie pekanneut produserende lande, het om van te kies.
Hulle sal dus altyd probeer om die vereistes van gekontrakteerde kwaliteit standaarde te verhoog. Ons het dit duidelik ervaar in die gesprekke met ‘n verskeidenheid kopers, van groot tot die kleiner nis mark kopers.
Die plaaslike pekanneut-oes in Sjina begin in September tot Oktober. Die vorige seisoen se oes was ongeveer 4000 ton, en hul skatting vir die komende seisoen is tussen 6000 en 8000 ton.Die kern persentasie van hul produk is van 50% – 58%. Indirek gaan hul groeiende produksie wel ‘n effek op SA pekans hê. Sommige kopers het duidelik aangedui dat die plaaslike produksie van Sjina ‘n ander segment in die mark gaan vul as Suid-Afrika se hoë-kernproduk. Hulle mees produktiewe produksie streek lê rondom Hefei, met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van bo 1100mm, waar droëland hawer tussen die bome soos ons besproeiings hawer lyk. Almal verkies steeds eerste Suid Afrika se pekanneute in die mark.
Hoe lyk die mark vir die seisoen:
Wat negatief vir die komende seisoen is, is die voorraad in Sjina se koelkamers uit Mexico en die VSA. Die primêre rede was ‘n vertraging in die verskeping van die produk en swakker verkope as verwag tydens die Sjinese Nuwejaar.
Die verwagting is dat Suid Afrika se 2024 pekanneute beter sal doen as die pryse uit Amerika. Die enigste probleem vir ons is dat hierdie voorraad in Sjina, eers weggewerk sal moet word voordat kopers, ons beter en duurder produk, die mark kan instuur. Groot verwerkers het bevestig dat hulle ongeveer 2 tot 3 maande gaan neem om die produk in hulle store weg te werk. Dit los ons met ‘n klein gaping voordat hulle by ons hoef te begin koop. Ons verwagting is dat die groter kopers eers einde Junie tot middel Julie sal begin koop.
Dit is duidelik vanuit die kopers se perspektief dat hul ekonomie besig is om te herstel, en dat die kapasiteit in hul aanlegte vir neute uitbrei. Die feit dat pekanneut pryse meer stabiel is, as die ander boomneute wat geweldig gedaal het die afgelope paar jaar, is positief vir die volhoubaarheid van pekanneute.
Tydens gesprekke met kopers op die kongres is die algemene gevoel dat pekan pryse onder druk gaan bly en dat ‘n effense afwaardse tendens, as gevolg van ander neute se pryse, verwag word.
Tot en met groter kopers na die mark kom, gaan dit moeilik wees om opwaartse pryse te behaal en ons dink ons gaan selfs gelukkig wees om sywaartse pryse oor die volgende paar maande te behaal. Die druk gaan verseker op verwerkers wees, om die beste moontlik vir SA produsente te doen terwyl die mark maar redelik stadig sal wees.
‘n Verdere bekommernis is met die verwagte groter oes, sal kopers die verwerkers teen mekaar afspeel vir laer pryse. Ons raad, neem deel en maak staat op ‘n gemiddelde prys deur die seisoen, waar jy in potensiële hoër pryse kan deel, maar jy jou ook kan verskans teen ‘n dalende mark.
Daar is meer faktore wat die prys negatief kan beïnvloed as positief. Verantwoordelike deelname deur verwerkers, gesteun deur produsente, om ten minste die huidige vlakke te behou.
Produsente moet ook verstaan wie ons eindverbruiker is. Sjina se middelklas en hoërklas, is mense met pakke klere wat in van die gevorderdste stede in die wêreld bly en werk. Hulle is in top poste en verdien goeie geld waarmee hulle produkte soos pekanneute kan koop. Gesofistikeerde verbruikers wat die verskil tussen swak, gemiddeld en uitstekend verstaan en dus as hulle vir uitstekende produk betaal, dan wil hulle dit ontvang.
Ten slotte, a.g.v. ‘n swakker Rand behoort produsente meer te verdien as verlede jaar in Rand terme. Indien ons in ag neem dat alle landbou produkte se pryse onder enorme druk verkeer, is dit ‘n silwer rand in die wolk. Kwaliteit pekanneute sal altyd verkoop en indien jy as produsent jou neute wil verkoop en altyd teen die hoogste prys moontlik, streef saam met jou verwerker om die beste moontlike produk aan die mark te lewer.
Die mark is daar, nie sonder uitdagings nie, maar die mark is daar, sowel as die koopkrag, om ons toenemende aanbod te verwelkom. ‘n Groot deel van die verantwoordelikheid van sukses lê egter in ons hande, verwerker en produsent.
Sterkte vir die 2024 Oes.

