13 Julie 2026 Saamgestel deur Kobus Hartmann Opsomming -Gebruik van plantgroeireguleerders, wat natuurlike fito-hormone en…

Die tweestryd tussen gewasbeskerming en voedselveiligheid
8 Junie 2026 – JP Hartman
Uittreksel
- Gewasbeskermingsmiddels is ‘n noodsaaklikheid wat groot ekonomiese verliese voorkom, maar die veiligheidsrisiko’s verbonde aan die gebruik daarvan word deur drukgroepe gebruik om verbruikerswantroue te skep.
- Maksimum residuvlakke (MRV’s) vir gewasbeskermingsmiddels word internasionaal volgens streng beheerde en wetenskaplike prosesse vasgestel met groot, ingeboude veiligheidsmarges.
- MRV’s (invoertoleransies) vergemaklik handel, en residue van gewasbeskermingsmiddels bly binne aanvaarbare vlakke van veiligeid vir verbruikers.
- Voorgestelde verlagings van MRV’s tot die Vlak van Kwantifikasie (‘Level of Quantification – LoQ)’ kan invoertoleransies laat verval, wat groot implikasies vir uitvoerlande na die Europese Unie het.
- Suid-Afrika, as ondertekenaar van die Global Framework on Chemicals, werk aan die uitfasering van hoogsgevaarhoudende produkte teen 2035.
- Kopers (supermarkte) stel dikwels strenger interne standaarde voor, maar dit moet per ooreenkoms geskied en is nie wetlik bindend nie.
- Die uitdaging is om die balans tussen noodsaaklikheid en risiko geloofwaardig te kommunikeer en gewasbeskermingsmiddels kundig en verantwoordelik te gebruik.
Is gewasbeskermingsmiddels veilig?
Die gebruik van landbouchemiese middels vir gewasbeskerming is ’n noodsaaklikheid vir die produksie van hoë waarde voedsel, maar bring ook ‘n groot verantwoordelikheid om die middels behoorlik te gebruik. Aan die een kant kan die uitsluiting daarvan tot groot ekonomiese verliese en vermorsing lei. Aan die ander kant is daar wêreldwyd sterk teenstand onder verbruikers en drukgroepe om daarvan ontslae te raak.
Waar kom die teenstrydigheid vandaan?
Vervaardigers vestig die persepsie dat landboumiddels veilig is en ons aanvaar dit in goedertrou. Hoewel hierdie produkte tans nog noodsaaklik is vir winsgewende landbou, het hul ook ‘n skadukant.
Soos kennis en navorsing oor mens- en omgewingsgesondheid toegeneem het, het vrae oor die veiligheid van residue daarvan op varsprodukte toegeneem.
Sou dit wetenskaplik bepaal word dat daar ’n onaanvaarbare risiko vir mens- en/of omgewingsgesondheid is, word die registrasie van die produk na deeglike oorweging gekanselleer en die toleransies daarvan op varsprodukte uitgefaseer.
Hierdie inligting word voordurend deur die owerhede en toksikoloë van al ons belangrike handelsvennote ondersoek en indien nodig word aanpassings gemaak.
Die menslike veiligheidsrisiko’s word ook vir alle populasiegroepe geëvalueer en teen die laagste moontlike vlak vasgestel. Hierdie populasiegroepe sluit in kleuters – wat per liggaamsgewig heelwat meer van sekere produkte eet as volwassenes – asook kwesbare individue, soos siek of meer sensitiewe mense, en bejaardes.
Die blootstelling aan residue verskil tussen bevolkingsgroepe en kulture omdat eetgewoontes verskil. Die laagste moontlike residuvlakke word vasgestel na inagneming van die sogenaamde kosmandjie van ‘n bepaalde bevolkingsgroep.
Veiligheidsfaktore word ingebou om vir uitsonderings voorsiening te maak, en teen die tyd dat die residuvlak vasgestel word, is daar reeds ’n groot hoeveelheid veiligheidsgrense ingebou.
Omgewingsbewustes en drukgroepe wat hulself as waghonde vir mens, dier en omgewing gevestig het, is geneig om dikwels die risiko’s verbonde aan residue van bepaalde middels te oorbeklemtoon. Daardeur skep hulle ‘n persepsie dat alle gewasbeskermingsmiddels gevaarlik is en onoordeelkundig gebruik word. Natuurlik is hierdie persepsie nie noodwendig korrek nie, maar die onverantwoordelike gebruik van gewasbeskermingsmiddels versterk dit en vertroebel die balans tussen noodsaaklikheid en risiko.
Hoe veilig is die residue van gewasbeskermingsmiddels?
As vertrekpunt moet ons aanvaar dat daar altyd ’n risiko vir mens- en dierveiligheid is wanneer daar met gewasbeskermingsmiddels gewerk word. Die blootstelling aan die middels is egter deurslaggewend. ‘n Geringe blootstelling is nie noodwendig gevaarlik nie. Die persepsie dat varsprodukte onveilig is nadat dit volgens voorskrif met landbouchemiese middels behandel is, is dus nie korrek nie.
Streng standaarde geld vir die vasstelling van residue voordat varsprodukte in die plaaslike of internasionale mark verkoop mag word. Die Departement van Gesondheid in Suid-Afrika stel soortgelyke residuvlakke vas vir middels wat in Suid-Afrka gebruik word.
Soos reeds vroeër genoem, stel die owerhede in koperslande die maksimum residuvlakke (MRV’s) vas vir elke geregistreerde gewasbeskermingsmiddel. Selfs vir middels wat nie in ’n land geregistreer is nie, maar op ingevoerde produkte voorkom, word sogenaamde invoertoleransies (MRV’s) vasgestel.
Dit bevorder internasionale handel en die vrye beweging van varsprodukte.
Hierdie invoertoleransies veroorsaak dikwels groot ongelukkigheid by produsente in daardie lande waar die betrokke gewasbeskermingsmiddels nie geregistreer is vir gebruik nie, omdat dit as ’n onregverdige bevoordeling van kompeteerders gesien word. Half-ingeligtes verwys dikwels na landbouchemie wat nie in die buiteland geregistreer is nie as ‘verban’. Dit op sigself skep die indruk dat Suid-Afrikaanse produsente onverantwoordelik optree deur steeds hierdie middels te gebruik. As ‘n gewasbeskermingsmiddel behoorlik in Suid-Afrika geregistreer is en volgens die etiket binne die raamwerk van goeie landbougebruik toegedien word, is dit wetlik in orde, al is die middel nie in die bestemmingsland geregistreer nie.
Invoertoleransies word net soos die toleransies (MRV’s) vir middels wat in ‘n land vir gebruik geregistreer is, steeds aan intensiewe evaluasieprosesse onderwerp en hierdie residue is veilig vir menslike gebruik.
’n Volledige uiteensetting van die prosedure is beskikbaar in die EU se amptelike dokumentasie. https://share.google/BjQTVH1afWq0dRaVx
Verdere residu-aanpassings wat in die nabye toekoms ingestel gaan word
- Die voorgestelde EU Food and Feed Safety Omnibus behels verandering van sekere Europese Kommissie regulasies, soos o.a. Regulasie No 396/2005 en Regulasie No 1107/2009, met die doelwit om EU-produsente se veerkragtigheid en kompeteerbaarheid te bevorder.
- ‘n Groot risiko vir uitvoerlande is die voorgestelde verlaging van maksimum residuvlakke van middels wat nie vir gebruik in die EU goedgekeur is nie na Vlak van Kwantifisering (‘Level of Quantification – LoQ’). Effektief beteken dit dat daar na die aanvaarding van die nuwe reëlings geen invoertoleransie vir daardie gewasbeskermingsmiddel sal bestaan nie, en dus sal geen residue van die middel op varprodukte toegelaat word in die EU nie. Dit beteken ook dat die voortgesette landbougebruik van daardie gewasbeskermingsmiddels aanpas sal moet word om residue te vermy.
- Daar is tans ‘n beweging om die toleransies vir residue in die EU en die Verenigde Koninkryk (VK) weer te harmonieer soos dit voor BREXIT was.
- Tydslyne is egter nog nie vasgestel nie.
Die vasstelling en ondersteuning van ’n bepaalde residuperk is onderhewig aan die oorsig van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). Suid Afrika is ‘n deelnemer by die WGO en daar word verwag dat ons ook bepaalde hoë-risiko produkte uit die mark sal onttrek. Voorbeelde hiervan is die onlangse onttrekking van benomyl, carbendazim, sekere neurotoksiene, terbufos, chlorpyrifos en ander.
Hierdie reëling rondom die onttrekking van hoogsgevaarhoudende middels geld ook vir ander lande soos byvoorbeeld die VSA en Kanada.
‘n Verskil is egter dat die amptelike ‘nul’-waarde tussen koperslande kan verskil. In Kanada is die nul waarde 0,1 mg/kg teenoor die 0,01 mg/kg van die EU.
In die VSA is daar nie n ‘nul’-waarde vasgestel nie en skryf hulle wetgewing voor dat gewasbeskermingsmiddels wat nie daar geregistreer is nie, nie gebruik mag word op gewasse bestem vir die VSA nie. Hierdie reëling moet egter gekwalifiseer word.
Die VSA dring nie op bewyse aan dat ‘n produk wat nie daar geregistreer is nie, nie gebruik is nie. Die enigste diskwalifikasie is die teenwoordigheid van residue. Enige residu van ‘n gewasbeskermingsmiddel wat nie in die VSA op ‘n bepaalde gewas geregistreer is nie, sal tot ‘n onmiddellike afkeuring lei.
Verdere implikasies vir gewasbeskermingsmiddels:
- Suid-Afrika het sedert 2010 reeds plaaslike beleid wat tot ‘n groot mate belyn is met van die aspekte in die sogenaamde Global Framework on Chemicals (GFC), wat in Bonn in 2023, by die ‘International Conference on Chemicals Management’, bevestig is, en wat ook deur Suid-Afrika onderteken is. Die bepalings van hierdie beleid word tans in Suid-Afrika in werking gestel. Dit bepaal ondermeer dat hoogsgevaarhoudende produkte (‘HHPs’) uitgefaseer moet wees teen 2035 of vroeër, en dat daar in die toekoms voorkeur gegee word aan die registrasie van minder gevaarhoudende middels.
Kommersiële toleransies vir gewasbeskermingsmiddels
Sommige handelaars en kopers stel hul eie toleransies vir residue van gewasbeskermingsmiddels vas – bo en behalwe die regulatoriese waardes. Hulle doen dit hoofsaaklik om handelsmerke te beskerm en reputasierisiko’s te vermy.
Hierdie toleransies is nie wetlik afdwingbaar nie en moet met die verskaffers in die land van herkoms vooraf ooreengekom word. ’n Oorskryding van ’n koper se interne standaard beteken dus nie dat die produk onveilig is nie. Die wetlik vasgestelde standaard bly die maatstaf vir veiligheid.
Slotgedagte
Die uitdaging vir produsente en beleidmakers is om die balans tussen noodsaaklikheid en risiko duidelik en geloofwaardig te kommunikeer en te bewerkstellig.
Al minder gewasbeskermingsmiddels gaan beskikbaar wees, wat druk plaas op almal betrokke by gewasbeskerming om hierdie middels kundig en versigtig voor te skryf en te gebruik.
