Skip to content
Download

Landbou doen dit self

Prof. Johan Willemse

Dié rubriek het oorspronklik in Landbouweekblad verskyn, in die uitgawe van 28 Mei-4 Junie 2026.

Landbou doen dit self

Ná die afskaffing van die landboubeheerrade is met die vordering van statutêre heffings begin. Baie geld is ter sprake en hoe groter die uitvoerspoor, hoe dikker die beursie. Dit maak ook die deur oop vir wrywing . . .

Die Landboubemarkingswet van 1996 maak daarvoor voorsiening dat bedrywe geld kan insamel via verpligte heffings indien die betrokke partye daartoe instem. Daar is streng voorskrifte waarvoor die geld aangewend mag word. Dit lyne verdof soms, daarom dat ’n hele ontleding hieraan afgestaan word.

Heffings is groot besigheid. Daar is 23 verskillende statutêre bedryfsheffings en dit het in 2025 sowat R1,155 miljard beloop, volgens die Nasionale Landboubemarkingsraad
(NLBR) se verslag hieroor. Hierdie totale bedrag is bestee aan die finansiering van die ver­skillende bedryfsfunksies.

Daaronder tel sowat 46,7% aan navorsing (R560 miljoen). Sowat 13% van die bedrag is bestee aan uitvoerbevordering en sowat 6,4% aan bedryfsinligtingsfunksies. Daar is ’n verpligte R237,5 miljoen bestee aan transformasieprojekte (19,7%) – dit het die voor­skrif van 20% hiervoor net-net gemis.

Willemse Grafiek 1

GRAFIEK 1 toon die verloop van die totale statutêre heffings wat oor die afgelope vyf jaar ingevorder is, wat met 43% gestyg het tot amper R1,2 miljard in 2025.

Willemse Grafiek 2

Oor die afgelope vyf jaar is daar bykans R1 miljard aan transformasie bestee, wat via verpligte statutêre heffings gevorder is op landbouproduksie (sien GRAFIEK 2). Dié bedrag het oor die vyf jaar met sowat 62% gestyg, en dit is ’n voorwaarde van die NLBR waartoe bedrywe moet instem om statutêre heffings te mag vorder.

Riglyne en besteding

TABEL 1, uit die NLBR se 2025-verslag, toon die besteding wat volgens sy riglyne geskied het. Daar is ’n perk op die besteding aan administrasie, wat sowat 6% beloop.

Willemse Tabel 1

Die verskaffing van statistieke is ’n belangrike funksie wat via opgawes gevorder en gepubliseer word oor die produksie en verbruik, asook die in- en uitvoer van produkte.

Dit is ’n noodsaaklike funksie wat bedrywe self verrig. In lande soos Amerika word dit deur hul departement van landbou verskaf.

Produsente kan nie in ’n vrye mark sake doen sonder akkurate en deursigtige mark­inligting om besluitneming te ondersteun nie. Groot sorg word getref sodat die statistieke wat só ingesamel word, anoniem bly, en korrek geverifieer en verwerk word tot bruikbare markinligting.

Die besteding aan navorsing maak byna 47% uit van die geld wat in 2025 ingesamel is. Die navorsing word deur die bedrywe gefinansier, gewoonlik via universiteite. Daar word daarop gelet dat dit toepaslik is en probleme vir die onderskeie bedrywe help oplos. Die navorsing het ook ten doel om die mededingendheid van die bedrywe te bevorder, wat saamloop met die bevordering van die uitvoermark.

Aan ander aspekte word minder bestee. Uit die aard van die saak sal dit van bedryf tot bedryf verskil na gelang van elkeen se behoefte.

Die statutêre heffings wat bedrywe in 2025 bestee het, word in TABEL 2 getoon. Hou in gedagte dat bedrywe self besluit oor die heffings en die grondslag waarop dit gehef en waaraan dit bestee word. Daar is gewoonlik groot deursigtigheid en die betrokke bedryfsorganisasies doen verslag daaroor.

Willemse Tabel 2

TABEL 2 gee die besteding deur die verskillende bedrywe soos afgelei uit elkeen se verslag. Net enkele groot bedrywe word in die tabel genoem; daar is sowat 25 bedryfsheffings wat ook kleiner bedrywe, soos olywe en granate, insluit.

Opvallend is dat die groot bedrae dié van die bedrywe is wat baie afhanklik van uitvoer is. Só beloop die sitrusbedryf se uitvoerwaarde nagenoeg R40 miljard en dié van sagte-
en droëvrugte sowat R20 miljard. Druiwe en wyn se uitvoerwaarde is nagenoeg R27 miljard.

Die groot bedrag vir sojabone is basies ’n heffing om saadgehalte te verbeter en meegaande navorsing van saadmaatskappye te ondersteun.

In die mieliebedryf word daar nie statutêre heffings gevorder nie en word die meeste dienste, waarvoor daar aansoek gedoen word, deur die ou Mielieraad gefinansier. Dit sluit verskeie funksies in, soos markinligting wat Sagis behartig. Selfs Graan SA kan van die funksies verrig.

Die mieliebedryf se vrywillige ledegeld en inkomste uit byvoorbeeld Nampo-oesdae finansier baie van die dienste aan lede, maar dit is nie aan die staat se goedkeuring
gekoppel nie.

 

Die bydraers vs. die ‘rugryers’

Ongelukkig bring dit die hele debat van sogenoemde “rugryers” ter sprake – van produsente wat nie aan ’n lede-organisasie behoort nie, maar noodwendig deur lededienste bevoordeel word.

Provinsiale landbou-unies is ook ’n voorbeeld hiervan, waar boereverenigingsgeld dienste soos veiligheidskameras en beheerkamers finansier, maar nie alle boere daartoe bydra nie. Dit skep nogal wrywing.

Sekere boereverenigings het byvoorbeeld hul eie brandbestrydingsvoertuie en toerusting. As brande bestry moet word, word dit dan net by lede gedoen. Ander het besluit dat nielede gefaktureer word vir ’n diens indien dit gelewer word.

In die geval van statutêre heffings dra elke produsent by, maar dit is onderhewig aan die NLBR, wat toesig hou namens die minister van landbou.

 

Trustsgeld staan sterk

Soos genoem, word daar in die mieliebedryf nie statutêre heffings gevorder nie. Die geld wat met die sluiting van die Mielieraad beskikbaar was, is oorgedra na die Mielietrust (waar die minister inspraak het). Heelwat funksies aan die bedryf word gefinansier deur die opbrengs van die geld in die huidige Mielietrust.

Ander bedrywe het ook opgehoopte geld in die betrokke trusts, onder die toesig van die NLBR, waarvan die opbrengs gebruik word om sekere dienste te lewer.

Daar is nie baie bedrywe wat geld oorgehou het nadat die ou rade gesluit is nie. Hou in gedagte dat die verpligte sluiting van die landboubemarkings­rade in 1996-’97 deur die nuwe Landboubemarkingswet ’n groot aantal dienste wat die rade gelewer het, laat verval het – meestal die dienste wat in TABEL 1 getoon word.

Die nuwe wet het voorsiening gemaak daarvoor dat daar wel statutêre heffings gevorder kan word om sekere dienste aan ’n bedryf te lewer, maar onder die toesig van die NLBR. Dit word bestuur ingevolge spesifieke wetgewing, waar die mandaat is om die geld te beskerm en te laat groei en om die opbrengs te gebruik om dienste aan bedrywe te
finansier.

In die trusts is daar verteenwoordigers van sogenoemde geraakte betrokke partye.

Willemse Tabel 3

Die fondse is nogal substansieel, soos uit TABEL 3 blyk, en is twee jaar gelede op sowat R2,6 miljard gestel. Die opbrengs van die fondse lewer ook ’n belangrike bydrae om die NLBR se nodige dienste en navorsing te finansier.

Die landbou sou baie slegter daaraan toe gewees het sonder die statutêre heffings en die opbrengste van die landboutrusts, wat gebruik word om noodsaaklike dienste te finansier, veral wat navorsing en mark- en uitvoerbevordering betref. Die opkomende landbou kry ook aansienlike voordele hieruit.

Dit is ’n belangrike vorm van selfhelp, want die minister en sy departement het getoon dat hulle nie die vermoë of wil het om te help nie.

Back To Top